Griekwaland Wes Korporatiewe Bpk v Karob Boerdery (EDMS) Bpk and Another (4573/2009) [2015] ZAFSHC 150 (13 August 2015)
The court found that the acknowledgment of debt did not provide for the payment of interest except in the event of default, and no specific interest rate was stipulated. The evidence showed that the document was intended to address only the arrear amounts, not the full outstanding debt, and that the underlying...
Source-derived case information.
- Citation
- [2015] ZAFSHC 150
- Parties
- Plaintiff: Griekwaland Wes Korporatiewe Bpk; Defendant: Karob Boerdery (EDMS) Bpk; Defendant: Charl Daniel Wilke
- Court
- Free State High Court, Bloemfontein
- Jurisdiction
- South Africa
- Case Number
- 4573/2009
- Procedural Posture
- Civil Trial / Final Judgment After Trial
- Outcome
- Plaintiff's claim dismissed with costs.
- Judges
- Kruger R
- Legal Topics
- Acknowledgment of Debt, Suretyship, Interest on Debt, Contractual Interpretation
Source-derived case record
Summary, issues, holding and outcome
More case intelligence is available
Unlock the full research layer for this judgment.
Parties
Griekwaland Wes Korporatiewe Bpk
Plaintiff
Karob Boerdery (EDMS) Bpk
Defendant
Charl Daniel Wilke
Defendant
Procedural Posture
Civil Trial / Final Judgment After Trial
Legal Issues
- 1 Whether the plaintiff is entitled to claim interest on the debt based on the acknowledgment of debt.
- 2 Whether the second defendant is liable as surety under the terms of the acknowledgment of debt.
- 3 Whether the acknowledgment of debt constitutes a valid cause of action for the full amount claimed.
Ratio Decidendi
The court found that the acknowledgment of debt did not provide for the payment of interest except in the event of default, and no specific interest rate was stipulated. The evidence showed that the document was intended to address only the arrear amounts, not the full outstanding debt, and that the underlying contracts with their respective interest rates remained in force. The plaintiff failed to prove entitlement to interest at the claimed rate, and the wording of the acknowledgment was ambiguous regarding the second defendant's liability as surety. The court accepted the second defendant's testimony that he was not properly informed of his suretyship obligations. Consequently, the...
Court Disposition
Plaintiff's claim dismissed with costs.
Orders
- The claim is dismissed with costs.
Full Case Text
Judgment text and source record
115 paragraphs
VRYSTAATSE HOË HOF, BLOEMFONTEIN
REPUBLIEK VAN SUID-AFRIKA
Saaknommer: 4573/2009
In die saak tussen:-
GRIEKWALAND WES KORPORATIEWE BPK Eiser
en
KAROB BOERDERY (EDMS) BPK 1ste Verweerder
CHARL DANIEL WILKE 2de Verweerder
AANGEHOOR OP: 4, 5 & 7 AUGUSTUS 2015
CORAM:
KRUGER, R
GELEWER OP:
13 AUGUSTUS 2014
[1] Die eiser vorder gelde vanaf die eerste verweerder en van die tweede verweerder as borg. Die eiser het op 11 September 2009 ’n voorlopige vonnis dagvaarding laat uitreik teen die verweerders waarin die eiser se eis gebaseer was op ’n skuldbewys wat op 26 Januarie 2006 onderteken is, waarin die eerste verweerder erken dat hy R12 787 871,82 aan eiser verskuldig is. In die voorlopige vonnis dagvaarding laat die eiser twee aftrekkings toe, naamlik ’n R6 miljoen betaling ontvang op 21 Januarie 2008 en R4 870 706,00 krediete toegestaan sedert 26 Januarie 2006. Daar was ’n geskil oor rente en Van der Merwe R wat die voorlopige vonnis saak op 19 November 2009 aangehoor het, het rente buite rekening gelaat en vonnis vir eiser gegee vir die R12 miljoen minus die twee vermelde bedrae, synde R1 917 165,80. Die bevel gee die eiser die reg om voort te gaan om verdere bedrae ingevolge die skuldbewys van verweerders te vorder. Die verweerders het die R1.9 miljoen bedrag betaal. Die bevel lees soos volg:
“1. Voorlopige vonnis word teen die verweerders gesamentlik en afsonderlik verleen vir betaling van:
1.1 Die bedrag van R1 917 165,80.
1.2 Rente op die gemelde bedrag bereken teen die voorgeskrewe koers vanaf 26 Januarie 2006 tot datum van betaling.
1.3 Koste van die geding tot datum.
2. Hierdie bevel is sonder benadeling van enige regte wat die eiser mag hê om verdere bedrae ingevolge die onderhawige skuldbewys te verhaal in hierdie verrigtinge en wel ooreenkomstig paragraaf 3 hiervan.
3. Wat betref die restant van die eiser se vordering ingevolge die skuldbewys word beveel dat die voorlopige vonnis dagvaarding bly staan as enkelvoudige dagvaarding dat geag word dat verskyning deur die verweerders aangeteken is en dat die verrigtinge verder ooreenkomstig die hofreëls geskied.”
[2] Eiser reik toe ’n deklarasie uit in navolging van die hofbevel oor die voorlopige vonnis waarin eiser beweer dat verweerder nog nie die bedrag van die voorlopige vonnis betaal het nie, en waarin eiser dus die bedrag van R7 118 602,94 eis. In antwoord op die deklarasie pleit verweerders dat die skuldbewys slegs voorsiening maak vir die agterstallige bedrag van R4 831 878,05, soos op die skuldbewys vermeld. Die verweerders pleit dat hulle die volle bedrag wat volgens hulle op die skuldbewys verskuldig is, betaal het. Verder pleit verweerders dat nie ooreengekom is op enige rente solank verweerders tydiglik betaal, wat verweerders
gedoen het.
[3] By die aanvang van die verrigtinge voor my het Mnr Danzfuss, vir die eiser, aangevoer dat ek ingevolge reël 39(20) van die Eenvormige Hofreëls moet gelas dat verweerder begin om getuienis aan te bied. Na aanhoor van betoog het ek gelas dat die eiser moet begin.
[4] Namens eiser het Mnr Louis Fourie eerste getuig. Hy ken die tweede verweerder goed. Hy werk nie meer vir eiser nie, maar vir ’n ander entiteit wat dieselfde besigheid as eiser doen. Hy was tot die begin van die laaste week in Junie 2006 kredietbestuurder by eiser. Die skuldbewys waarop eiser steun is op 26 Junie 2006 onderteken.
[5] Fourie het verduidelik dat boere verskeie rekeninge by eiser gehad het vir hul verskillende doeleindes. Die eerste verweerder het ook verskeie rekeninge by eiser gehad. Fourie het saam met Elize Brand en Riaan Nolte op 20 Januarie 2005 ’n vergadering
met tweede verweerder gehad met die oog op die konsolidering van sy rekeninge in Douglas, by eiser se hoofkantoor. Eiser se doel was om ’n langer termyn aan verweerders toe te staan om die uitstaande bedrae te betaal. Fourie het verduidelik dat eiser probeer om sy kliënte te help. Me Greyvenstein, eiser se tweede getuie, het verduidelik dat eiser se kliënte sy aandeelhouers is.
[6] Fourie het getuig dat hulle aanvanklik wou hê dat eerste verweerder in April 2005 die eerste betaling maak, maar tweede
verweerder het gevra om eers in September te begin. Die besonderhede in hierdie vergadering van 20 Januarie 2005 word uiteengesit in Mnr. H. A. Nolte se brief gedateer 1 Maart 2005.
[7] Fourie het getuig dat dit eiser se gewone praktyk is om ’n skuldbewys te laat onderteken as ’n kliënt agterstallig
raak. Wat tweede verweerder se borgakte betref het Fourie dit duidelik gestel dat tweede verweerder van die begin af geweet het dat hy sou moes borg teken. Die staat wat die saldo van R12 miljoen toon was aangeheg by die skuldbewys, soos wat in alle gevalle gedoen is volgens Fourie.
[8] Fourie het getuig dat voordat hy uit die krediet afdeling weg is, was eerste verweerder agterstallig met sy betalings. Fourie het op 18 Mei 2006 ’n vergadering met tweede verweerder gehad, nadat Bernard van Zyl op 28 Februarie 2006 ’n vergadering met tweede verweerder gehad het. Van Zyl het met tweede verweerder ooreengekom op sekere betalings. Fourie se ooreenkoms met tweede verweerder was dat hy R400 000 maandeliks moes betaal. Fourie sê dat tweede verweerder nie betaal het die laaste paar maande voordat Fourie by eiser weg is nie, en by Lewende Hawe gewerk het. In kruisondervraging het Fourie erken dat tweede verweerder nie met die rente gelukkig was nie, maar Fourie het gesê dat hy eers na ondertekening van die skulderkening na die rente sal kyk.
[9] Die saak gaan op hierdie stadium slegs oor rente. Dis duidelik uit tweede verweerder se getuienis dat hy ontevrede was oor die rente. Tweede verweerder het getuig dat hy in 2005 vir Mnr Whelpton, ’n forensiese ouditeur genader het om hom by te staan met renteberekenings op sy rekeninge by Landbank en by eiser. Welton het gehelp om renteterugskrywings op tweede verweerder se Landbank rekening te bewerkstellig en hy het met Landbank ’n skikking bereik. Op die skedule wat by die skuldbewys aangeheg is, is daar ’n nota aan die onderkant van die bladsy in Mnr Van Zyl se handskrif:
“32 Swaai na nuwe produksie.
– Louis rente terugskrywing.”
Die tweede verweerder het getuig dat Mnr Louis Fourie gesê het dat hy ’n rente-terugskrywing sou doen. Fourie se getuienis was dat hy en Van Zyl vir tweede verweerder gesê het hulle sal hom help, en op hierdie rekening nommer 32, wat hy as die Mielie Rekening beskryf het, het hulle vir tweede verweerder gehelp deur die bedrag, wat nie groot was nie, na produksie oor te swaai. Kyk mens na item 32 is op die skedule het dit, uit die 21 rekenings vermeld, die tweede grootste totaal, naamlik R1 753 635,78 soos op 24 Januarie 2006. Fourie het erken dat tweede verweerder tydens ondertekening van die skuldbewys ontevrede was oor die rente wat eiser gevorder het.
[10] Me Kobie Greyvenstein het namens eiser getuig en bewysstuk “B” ingehandig, ’n herberekening van verweerders se skuld wat sy nagegaan het. Die berekenings is deur Excel gedoen, en rente van 15.5% is jaarliks gekapitaliseer. Sy het die transaksies kronologies in die rekenaar-program ingevoer. Eiser het die maksimum rentekoers toelaatbaar onder die Woekerwet geneem want dit was steeds minder as waarop eiser geregtig was.
[11] Verwys na klousule 1 op die skuldbewys wat soos volg lees:
“1. Benewens die hoofskuld soos uiteengesit in Aanhangsel A hiertoe sal die skuldenaar aan die skuldeiser artikel 5 van die wet betaal:”
het Me Greyvenstein gesê dat sy nie na artikel 5 van die Wet gekyk het en dat sy nie weet wat dit bepaal nie. Sy het rente op die totale hoofskuld vanaf 26 Januarie 2006 bereken. Sy weet nie wat die AVO’s oor rente sê nie, want sy het nie na die AVO’s gekyk nie.
[12] Me Greyvenstein het toegegee dat die skuldbewys net voorsiening maak vir die betaling van rente as verweerders nalaat om betalings
ingevolge die skuldbewys te doen (klousule 5). Sy het ook toegegee dat die skuldbewys nie voorsiening maak vir die kapitalisering van rente nie. Sy het erken dat kapitalisering van rente lei tot die heffing van rente op rente, en dat by afwesigheid van ’n ooreenkoms, slegs enkelvoudige rente gehef kan word, maar gesê dat dit eiser se normale praktyk is om rente te kapitaliseer. Me Greyvenstein het toegegee dat na ondertekening van die skuldbewys is die onderskeie onderliggende kontrakte steeds in stand gehou, elkeen met sy eie rente-bepaling. Me Greyvenstein het getuig dat as die verweerders die agterstallige bedrae vermeld in klousule 2 van die skuldbewys betaal het, sou die oorspronklike ooreenkomste weer ontstaan. Sy het bevestig dat volgens haar die skuldbewys handel met die betaling van die agterstallige skuld, en dat dit beperk is tot die agterstallige bedrag verskuldig. Sy het bevestig dat daar ’n twis oor rente was.
[13] Mnr Carl Bernard van Zyl werk nie meer vir eiser nie, maar was in 2006 die Gebeidsbestuurder van eiser. Hy was gemoeid met die konsolidasie van die rekeninge van verskeie entiteite in Karob Boerdery, die eerste verweerder. Hy het die skuldbewys voltooi in sy handskrif. Hy het nie die mag gehad om enige van die gedrukte dele te verander nie. Sy getuienis is dat die paaiemente vermeld in klousule 2 van die skuldbewys nie die volle hoofskuld dek nie.
[14] Volgens Van Zyl het hy die hoofpunte van die skuldbewys aan die tweede verweerder verduidelik, naamlik (i) dat dit ’n erkening van skuld is van R12,7 miljoen is; (ii) die reëlings rondom die agterstallige gedeelte; (iii) sou die verweerders nie betaal nie, word die volle R12,7 miljoen opeisbaar; (iv) die tweede verweerder sou weer borg moes teken vir die R12,7 miljoen. Wat finansieringskoste betref, het Van Zyl verduidelik dat eiser nie soos ’n bank werk nie. Rente word maandeliks bereken, dan word ses maande se rente by die kapitaal gevoeg, en dit is dan gewoonlik die paaiement wat betaalbaar is.
[15] Van Zyl het verduidelik dat klousule 2, wat die afbetaling van die agterstallige bedrag reël, twee keer gewysig is. In die skuldakte was dit soos volg:
“2.1.1 R300 000-00 per maand tot Des 2006.
2.1.2 R1, 500 000 uit somergewasse opbrengs.
2.1.3 voor of op 31 Augustus 2006.”
Verweerders kon nie die eerste paaiement aan die einde van Januarie 2006 betaal nie, en toe het Van Zyl en tweede verweerder ooreengekom dat betalings gemaak sal word vanaf Maart tot Desember 2006 soos volg:
Maart R 300 000
April R 300 000
Mei R 550 000
Junie R 550 000
Julie R 550 000
Augustus R1 800 000
September R 300 000
Oktober R 300 000
November R 300 000
Desember R 300 000.
Die verweerders kon ook nie by daardie reëling hou en op 18 Mei 2006 het hy en tweede verweerder op die volgende betalings ooreengekom:
Mei – Desember : R400 000 elke maand.
Die verweerders het daardie reëling gedeeltelik nagekom, maar toe weer in verstek geraak.
[16] Op 10 April 2007 het eiser se bestuurder van regsdienste ’n aanmaning aan eerste verweerder gestuur waarin die uitstaande bedrae op 18 rekeninge gevorder word. Die brief verwys nie na rente nie, en eis dat R11 655 499,84 voor 24 April 2007 betaal word, anders sal dagvaarding uitgereik word. Dagvaarding is op 11 September 2009 uitgereik synde die voorlopige vonnis dagvaarding op die skuldbewys van 26 Januarie 2006 waarin R7 001 793,19 geeïs word.
[17] In kruisondervraging erken Van Zyl dat tot April 2007 was daar nog verskillende kontrakte in plek, soos blyk uit die aanmaningsbrief.
Klousule 11 van die skuldbewys bepaal:
“11.1 Die partye plaas op rekord dat hierdie skuldbewys nie ’n novasie van die skuldeiser se oorspronklike eis teen die skuldenaar is nie, dat dit nie afstanddoening van enige van die regte van die skuldeiser insluitende sy reg om sonder kennisgewing met die oorspronklike versuim om die bepaling en voorwaardes van hierdie skuldbewys na te kom sal die skuldeiser geregtig wees om in sy uitsluitlike diskresie geregtelike stappe in te stel kragtens die skuldbewys of die oorspronklike skuldoorsaak.”
[18] Gevra oor eiser se rentekoerse, sê Van Zyl dat eiser se rentekoerse gekoppel was aan Landbank se rentekoers, en was dan
byvoorbeeld +1% of -1%. Van Zyl getuig dat rentekoerse deel van hulle stelsel was. Oor die nota oor rente-terugskrywing op die skedule tot die skuldbewys sê Van Zyl aanvanklik dat hy onthou dat Fourie gesê het hy sal rente terugskryf, en later dat hy nie onthou dat Fourie gesê het daar is iets fout met die rente nie. Van Zyl se latere getuienis is dat tweede verweerder bloot in die vergadering oor rente gevra het. Van Zyl weet nie of rente teruggeskryf is nie.
[19] Betreffende die vraag of tweede verweerder bewus was dat hy as borg sou teken, getuig Van Zyl dat hy nie onthou of tweede verweerder die skuldakte deurgelees het nie, hy glo hy het. Hy weet nie of tweede verweerder alles gelees het nie. Die slot van die skuldakte lees soos volg:
“ALDUS GETEKEN te Jacobsdal op hierdie 26 dag van Januarie 2006.
AS GETUIES:
1. ________________________ __________________________
NAMENS GRIEKWALAND WES
KORPORATIEF BEPERK
2. ________________________ __________________________
SKULDENAAR
Ek/Ons die ondergetekende(s) verklaar myself/onsself hiermee gesamentlik en afsondelik verbonde met die skuldenaar as borg(e) in solidum en as mede hoofskuldenaar(s) vir die stiptelike be-taling van alle bedrae wat deur die skuldenaar verskuldig is of verskuldig mag word kragtens hierdie skuldbewys.
My/ons aanspreeklikheid hierkragtens sal nie deur enige tydsver-lenging, wysiging, toevoeging, of toegewing wat aan die skulde-naar toegestaan word of deur enige verandering in die ledebelang aandeelhouding of deur die omskepping van die skuldenaar geraak of ongeldig gemaak word nie.
ALDUS GETEKEN te Jacobsdal op hierdie 26 dag van Januarie 2006.
1. ________________________
ALDUS GETEKEN te __________ op hierdie __ dag van _______ 20_.
___________________________________________________________
Hiermee erken ek (volle name) _________________________ ontvangs van afskrif van bogenoemde skuldbewys op hierdie
_____ dag van _____________ 20____
________________________ __________________________
HANDTEKENING
IDENTITEITSNOMMER”
Van Zyl getuig dat dit ’n standaard vorm was. Hy weet nie waarom tweede verweerder gevra is om twee keer as “skuldenaar”
te teken nie. Van Zyl is verwys na ’n ander borgakte wat duidelik voor-op sê: Borgakte in groot vetgedrukte letters en 12 bladsye beslaan.
[20] In sy betoog voer Mnr Grobler namens verweerders aan dat die skuldakte nie ’n skuldoorsaak daarstel omdat dit nie ’n
onderneming bevat om die hele bedrag te betaal nie, met verwysing na Adams v SA Motor Industry Employers Association 1981 (3) SA 1189 (A) te 1198B-C, waar gesê word:
“There is ample authority to the effect that an acknowledgment of debt, provided it is coupled with an express or implied undertaking to pay that debt, gives rise to an obligation in terms of that undertaking when it is accepted by the creditor; and it does not matter whether the acknowledgment is by way of an admission of the correctness of an account or otherwise.”
Die onderhawige skuldakte bepaal in klousule 5:
“5. Indien die skuldenaar nalaat om enige betaling ingevolge hierdie skuldbewys op betaaldatum te maak, sal die skuld-eiser, in sy uitsluitlike diskresie, geregtig wees om:
5.1.1 rente tot die maksimum toegelaat ingevolge die wet maandeliks vooruit bereken te vorder vanaf die datum van verbreking tot die datum van finale betaling daarvan.
5.1.2 die volle saldo van die hoofskuld en finansierings-koste uitstaande op die datum van verbreking of versuim te verhaal sonder dat dit nodig is dat die skuldeiser die skuldenaar hieromtrent in kennis stel;”
Mnr Grobler verwys na Kotzé v Suid-Westelike Transvaalse Landbou Koöperasie 2005 (2) SA 295 (HHA) waar die skuldeiser die onderneming verwerp het, en waar die skuldakte dus nie ’n skuldoorsaak daargestel het nie. In die onderhawige geval het, volgens Mnr Grobler, die eiser nie ’n onvoorwaardelike onderneming gehad om die skuld af te betaal nie.
[21] By die uitleg van ’n kontrak is die konteks van kardinale belang. Mens moet kyk na wat die doel van die kontrak was en die agtergrond by die voorbereiding daarvan oorweeg. Hier weet mens dat die verweerders agterstallig was. Beide Van Zyl namens eiser en tweede verweerder sê dat die skuldakte met die agterstalliges gehandel het. Die eiser wou probeer dat die agterstallige bedrae betaal word, dan kan die onderliggende 21 kontrakte weer voortduur. ’n Opvallende aspek van hierdie skuldakte, in teenstelling met skuldaktes wat mens gewoonlik sien, is dat nie voorsiening gemaak word vir die wyse van terugbetaling van die hele R12 miljoen nie. Die objektiewe voorkoms en inhoud van die skuldakte staaf die feit dat dit slegs handel met betaling van die agterstallige. As die verweerders versuim om te betaal, word die volle R12,7 miljoen betaalbaar. Geen rentekoers word vermeld nie. By die voorlopige vonnis is die verweerders gelas om die volle R12,7 miljoen, min betalings en krediete soos deur eiser erken, te maak. Geen rente is toegelaat omdat daardie hof van mening was dat die rente nie bewys is nie.
[22] In die getuienis voor my het eiser nie daarin geslaag om te bewys op watter rente hy geregtig is nie. Die eiser eis rente teen 15,5%, die wetlik voorgeskrewe mora koers (dis die rente wat op agterstallige bedrae gehef kan word) van 26 Januarie 2006. Met inagneming van die getuienis van beide eiser se getuies en tweede verweerder se getuienis was die bedoeling van die skuldbewys dat reëlings getref word vir afbetaling van die agterstalliges. Na betaling of nie-betaling van die agterstalliges was eiser geregtig om die volle uitstaande bedrae, met verwysing na die onderliggende kontrakte waarna in klousule 11 en in die eiser se aanmaningsbrief van 7 Maart 2007 verwys word, te vorder. Die rente waarop eiser geregtig was, was die maksimum bedrae volgens die onderskeie onderliggende kontrakte. Dit is ongewoon om ’n skuldbewys te hê wat nie na afbetalingspaaiemente vir die volle hoofskuld verwys nie, en dit is ook ongewoon dat ’n skuldbewys nie ’n rentekoers bevat nie. Sien Crookes Brothers Ltd v Regional Land Claims Commissioner, Mpumalanga, and Others 2013 (2) SA 259 (HHA) par [3]. Op die beste vir eiser is die woorde “die maksimum toelaatbare rentekoers” in klousule 5.1 van die skuldakte vatbaar vir die redelike interpretasie, veral met inagneming van die getuienis van tweede verweerder en Van Zyl dat
die skuldbewys bedoel was om die agterstalliges aan te spreek, en dat dit nie met terugbetaling van die volle hoofskuld gehandel het nie, dat na die onderskeie rentekoerse in die onderskeie kontrakte verwys het. Die getuienis is dat daardie rentekoerse by elke kontrak gekoppel was aan die Landbank se rentekoers. Daar is geen getuienis wat daardie rentkoerse was nie. Dit is nie in geskil dat verweerders meer as R10 miljoen aan eiser betaal het na die ondertekening van die skuldbewys nie, en in totaal nagenoeg R15 miljoen rand. Hierdie is nie ’n geval waar ’n verweerder sy verpligtinge probeer ontduik nie. Tweede verweeerder was deurgaans ontevrede oor renteberekenings, en het ook ’n konsultant oor rente geraadpleeg. In die omstandighede kan eiser nie daarin slaag om op die skuldbewys enige rente te vorder nie.
[23] Wat die tweede verweerder se borgstelling betref, aanvaar ek dat tweede verweerder meegedeel is dat hy as borg sou moes teken.
Daar was op daardie stadium reeds verskeie borgskappe van hom by eiser. Die bewoording van die skuldakte is misleidend omdat die woord “solidum” in vetgedrukte letters is, maar nie “borg” nie, ook omdat tweede verweerder tweemaal
moes teken as “skuldenaar”. Mens sou ’n ander beskrywing onder die tweede handtekening verwag. Ek aanvaar tweede verweerder se getuienis dat hy nie geweet het dat hy hom in die skuldakte as borg verbind nie. Omdat die eiser nie sy saak teen die eerste verweerder uitgemaak het nie, kan die tweede verweerder in elk geval ook nie aanspreeklik gehou word nie.
BEVEL
Die eis word met koste afgewys.
______________
A. KRUGER, R
Namens Eiser:
Adv.F.W.A. Danzfuss SC
In opdrag van:
Webbers
BLOEMFONTEIN
Namens Verweerders: Adv. S. Grobler
In opdrag van:
McIntyre & Van der Post Prokureurs
/wm