Hennie Kruger Boekhouers BK v Le Roux and Another (1182/2006) [2007] ZANCHC 52 (7 September 2007)
The court found that the applicant had established a valid and genuine claim against the respondent, supported by a written loan agreement and corroborated by evidence under oath. The intervening creditor's allegations of collusion and abuse of process were not substantiated. The court held that sequestration would...
Source-derived case information.
- Citation
- [2007] ZANCHC 52
- Parties
- Applicant: Hennie Kruger Boekhouers BK; Respondent: Le Roux H C; Respondent: Van der Bergh-September L H
- Court
- Northern Cape High Court, Kimberley
- Jurisdiction
- South Africa
- Case Number
- 1182/2006
- Procedural Posture
- Sequestration Application / Application for Confirmation of Provisional Sequestration Order
- Outcome
- Provisional sequestration order confirmed; respondent's estate finally sequestrated; costs awarded against intervening creditor.
- Judges
- Olivier R
- Legal Topics
- Sequestration, Creditor Claims, Insolvency Act, Provisional Order Confirmation
Source-derived case record
Summary, issues, holding and outcome
More case intelligence is available
Unlock the full research layer for this judgment.
Parties
Hennie Kruger Boekhouers BK
Applicant
Le Roux H C
Respondent
Van der Bergh-September L H
Respondent
Procedural Posture
Sequestration Application / Application for Confirmation of Provisional Sequestration Order
Legal Issues
- 1 Whether the applicant has established a valid claim against the respondent for the purposes of sequestration.
- 2 Whether sequestration of the respondent's estate would be to the benefit of creditors.
- 3 Whether the application constitutes an abuse of process or a collusive 'friendly' sequestration.
Ratio Decidendi
The court found that the applicant had established a valid and genuine claim against the respondent, supported by a written loan agreement and corroborated by evidence under oath. The intervening creditor's allegations of collusion and abuse of process were not substantiated. The court held that sequestration would benefit creditors, as a dividend was likely and the process would allow for proper investigation of assets. The alternative procedure under section 65 of the Magistrates' Courts Act was not shown to be a viable or superior remedy for the applicant. The court exercised its discretion to confirm the provisional sequestration order, finding no improper collusion or abuse of...
Court Disposition
Provisional sequestration order confirmed; respondent's estate finally sequestrated; costs awarded against intervening creditor.
Orders
- The wasted costs occasioned by the postponement of 23 March 2007 shall be costs in the cause.
- The intervening creditor's application to set aside or uplift the provisional sequestration order of 6 October 2006 is dismissed with costs, including costs occasioned by her intervention and opposition.
Full Case Text
Judgment text and source record
102 paragraphs
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(Noord-Kaapse Afdeling)
Saakno: 1182 /2006
Datum Aangehoor: 24/08/2007
Datum Gelewer: 07/09/2007
In die saak tussen:
HENNIE KRUGER
BOEKHOUERS BK APPLIKANT
en
LE ROUX H C RESPONDENT
VAN DER BERGH-SEPTEMBER L H TUSSENBEIDETREDENDE
SKULDEISER
Coram: Olivier R
UITSPRAAK
OLIVIER R:
Die applikant, Hennie Kruger Boekhouers BK, doen nou aansoek om die bekragtiging van die voorlopige sekwestrasie van die boedel van die respondent, mnr Hendrik Cornelius le Roux, wat op 6 Oktober 2006 toegestaan is. Die toetredende skuldeiser, me Laurette Hendrieletta van der Bergh-September, ân vorige eggenoot van die respondent, staan die aansoek teen en versoek dat die voorlopige sekwestrasiebevel tersyde gestel word (alhoewel aanvanklik in die kennisgewing van mosie bloot versoek is dat die bevel opgehef word).
Die applikant se aansoek is gebaseer op ân bewering dat die respondent aan die applikant ân bedrag van R30 000,00 (en rente daarop) verskuldig is uit hoofde van geld geleen en voorgeskiet. Die toetredende skuldeiser het op haar beurt ân getakseerde kostebevel teen die respondent, welke koste altesame (met rente) ân bedrag van R296 279,06 beloop. Hierdie kostebevel is reeds ingevolge artikel 65M van die Wet op Landdroshowe, 32 van 1944, omskep en die respondent moes op 11 September 2006 voor ân Landdros verskyn het vir ân ondersoek ingevolge artikel 65A(1) van die betrokke Wet, maar het blykbaar versuim om so te doen. Die verrigtinge is toe verdaag tot 16 Oktober 2006, maar is klaarblyklik intussen van die rol verwyder.
Die toetredende skuldeiser het in haar eedsverklarings heelwat moeite gedoen om te probeer aantoon dat die respondent bates van hom versteek of verskuil het en dat hy oor meer belange of bates beskik as wat uit die stukke blyk. Hierdie aanslag is nie in betoog verder geneem namens die toetredende skuldeiser nie en is haar saak in argument deur mnr Olivier SC beperk tot slegs twee geskilpunte, naamlik of die applikant bewys het dat dit oor ân vordering teen die respondent beskik en of die sekwestrasie van die respondent se boedel tot voordeel van sy skuldeisers sou wees.
Verder is namens die toetredende skuldeiser aan die hand gedoen dat, selfs al sou bevind word dat die applikant wel aangetoon het dat dit oor ân vordering beskik en dat die sekwestrasie tot die voordeel van die respondent se skuldeisers sou wees, die Hof in die uitoefening van sy diskresie nie die voorlopige sekwestrasiebevel behoort te bekragtig nie.
Mnr Olivier se betoog in hierdie verband was hoofsaaklik gegrond op die submissie dat hierdie eintlik ân vriendskaplike aansoek om sekwestrasie is en dat daar om hierdie rede met noukeurigheid en skeptisisme gekyk moet word na die applikant se saak.
Dit blyk dat die respondent se latere eggenote (me le Roux), van wie hy ook intussen geskei is maar wat duidelik in die verlede hom al finansieel behulpsaam was, ân adres deel met die applikant en dat haar broer (en dus ân gewese swaer van die respondent) ân sakevennoot is van mnr Kruger, die deponent vir en die enigste lid van die applikant.
Dit is ook so dat daar by Kruger se funderende eedsverklaring ân afskrif aangeheg is van die kennisgewing wat ingevolge artikel 65A(1) van die Wet op Landdroshowe aan die respondent gerig is, wat Kruger op die waarskynlikhede tog sekerlik maar net by die respondent kon gekry het.
Soos ook later weer mee gehandel sal word, moes daar ook op die waarskynlikhede minstens een gesprek tussen Kruger en die respondent gewees het voordat die respondent toe ân skrywe gerig het wat dade van insolvensie daargestel het.
Verder is dit so dat die applikant wel op hierdie stadium die samewerking van die respondent het, deurdat die respondent die applikant sedertdien van meerdere eedsverklarings voorsien het in reaksie op beweringe wat die toetredende skuldeiser gemaak het in haar aansoek om toetrede en later in haar stukke ter ondersteuning van haar aansoek om die opheffing/tersydestelling van die voorlopige sekwestrasiebevel.
Aan die ander kant was daar, afgesien van die aanhegting van die afskrif van die artikel 65A(1)-kennisgewing, nie in die applikant se funderende stukke aanduidings van samewerking van die kant van die respondent nie. Die applikant het, byvoorbeeld, nie op daardie stadium beskik oor kennis van die respondent se bates en laste nie en was Kruger op daardie stadium foutiewelik onder die indruk dat die respondent wel op 11 September 2006 voor die Landdros verskyn het.
Verder ontbreek ân hele klomp van die kenmerke wat tiperend is van die tipe ooreenkomste en dade van insolvensie wat gewoonlik voorkom in vriendskaplike aansoeke om sekwestrasie (sien Craggs v Dedekind; Baartman v Baartman and Onother; Van Jaarsveld v Roebuck; Van Aardt v Borrett 1996(1) SA 935(C) en Esterhuizen v Swanepoel and Sixteen Other Cases 2004(4) SA 89(W)).
Wat die onderhawige lening betref, was dit beslis nie vir ân klein of onbenullige bedraggie nie en is die terme daarvan in hierdie geval vervat in ân behoorlike kontrak. Ek sal later weer verwys na die kontrak en na die inligting wat wel in hierdie geval voor die Hof is ter verduideliking van die rede en noodsaak vir die lening en die wyse waarop met die fondse gehandel is.
Die brief wat die respondent aan die applikant gerig het en waarvan die inhoud dade van insolvensie uitgemaak het, was ook nie die tipiese een wat voorkom by vriendskaplike aansoeke om sekwestrasie nie. Hier het die respondent nie in die skrywe gelate aanvaar dat die applikant stappe sou neem teen hom nie (en allermins nog sekwestrasiestappe) en het die respondent inteendeel die applikant versoek om âgeduldigâ te wees (vergelyk Esterhuizen-saak op 94B).
Kruger is ook nie ân familielid of vriend van die respondent nie en het bloot uit hoofde van ân aanbeveling van iemand wat voorheen ân swaer van die respondent was die lening toegestaan. Dit staan ook onbetwis dat die applikant as deel van sy besigheid en in die normale loop van sake geld uitleen aan kliënte en uit dié oogpunt beskou was daar dus niks vreemds aan die lening van die applikant aan die respondent nie. Alhoewel die applikant boekhouerdienste ook lewer, was ân ander instansie te alle tye die respondent se boekhouers.
Verder is die geld aan die respondent uitgeleen op die basis dat hy rente sou betaal teen een persentasiepunt bokant die prima koers en is dit in duidelike terme ooreengekom op hoe en wanneer die kapitaal en rente terugbetaal sou word.
In die omstandighede meen ek dat hierdie aansoek nie beskou kan word as die tipiese vriendskaplike aansoek om sekwestrasie nie.
By die beoordeling van die vraag of daar ter voldoening aan artikel 12(1)(a) van die Insolvensiewet, 24 van 1936, aangetoon is dat die applikant oor ân vordering beskik soos bedoel in artikel 9 van die Insolvensiewet, sal ek egter nietemin met die noukeurigheid te werk gaan wat normaalweg vereis word in die geval van sogenaamde vriendskaplike aansoeke om sekwestrasie. Dit moet egter in gedagte gehou word dat alle sodanige aansoeke in elk geval nie noodwendig sinister is nie (sien Jhatam and Others v Jhatam 1958 (4) SA 36 (N) op 39-40).
Verder is dit so dat die applikant op hierdie stadium finale regshulp versoek en dat die normale benadering wat in so ân geval gevolg word, is om âdie feite wat gemene saak is te neem en waar daar werklike dispuut op die feite bestaan die weergawe van die respondent, vir doeleindes van die uitspraak, te aanvaarâ (sien Staatsdiensliga van Suid-Afrika en Andere v Minister van Waterwese 1990 (2) SA 440 (NK) op 443 G). Hierdie reël sou natuurlik slegs toepassing vind in die geval van werklike feitedispute (sien Plascon-Evans Paints Ltd v Van Riebeeck Paints Pty Ltd 1983 (3) SA 623 (A) op 632 I).
Die toetredende skuldeiser se saak in hierdie verband is na my oordeel niks meer as ân blote ingeskilstelling van die bewering van ân vordering, en ân algemene verdagmakery daarvan, nie.
So, byvoorbeeld, is gewag gemaak van die feit dat daar in klousule 1 van die leningskontrak waarop die applikant steun, en wat voorgee op 17 Maart 2006 onderteken te gewees het, verwys is na die bedrag van R30 000,00 as geld wat âverskuldig isâ, terwyl dit die applikant se saak is dat die bedrag eers op 3 April 2006 aan die respondent oorbetaal is. Dit is werklik na my oordeel bloot ân kwessie van semantiek en die suggestie, klaarblyklik, dat dit aanduidend daarvan sou wees dat die leningskontrak vals of ân fiksie is, is totaal vergesog.
ân Kontrak moet in elk geval altyd as ân geheel gelees word en in klousule 6.1(a) is weer verwys na die bedrag van
R30 000,00 as âsynde die kontantbedrag wat werklik deur die Skuldenaar ontvang wordâ, wat weer eerder sal impliseer dat dit op daardie stadium nog nie ontvang was nie.
Verder is verwys daarna dat daar in ân klousule van die kontrak waarin gehandel is met koste, nie slegs verwys is na die koste van die opstel van die kontrak nie, maar ook na die koste van die registrasie van ân eerste verband, terwyl hier geen sprake van so ân verband is nie. Hoe dit aanduidend sou kon wees daarvan dat die kontrak ân simulasie of valsheid is, is onduidelik. Mnr Olivier moes toegee dat dit waarskynlik die gevolg is daarvan dat ân standaardvorm gebruik is vir die kontrak. Dit sou na my oordeel strook met die applikant se saak dat dit normaalweg geld uitleen.
Die feit is egter dus dat daar voor hierdie Hof ân skriftelike leningskontrak is wat onderteken is deur die respondent en die gemelde mnr Kruger, namens die applikant. Dit is ân betreklik uitvoerige kontrak en nie ân blote notulering van die leen en voorskiet van geld nie.
Die feit dat daar nie in die betrokke kontrak voorsiening gemaak is vir sekuriteit nie, is nie na my oordeel enige refleksie op die egtheid van die kontrak nie. Dit blyk uit die stukke dat die respondent waarskynlik niks sou gehad het om aan te bied as sekuriteit nie en verder is hy duidelik as kliënt aanbeveel deur ân sakevennoot van mnr Kruger.
Die kontrak is verder behoorlik onderteken deur twee getuies en die rekeningnommer wat in klousule 5 daarvan verskaf is as die een waarin die respondent die maandelikse paaiemente moes betaal ter delging van die kapitaal en rente, stem toevallig ooreen met diè op die bankstaat waarvan die applikant ân afskrif verskaf het om aan te toon dat die bedrag van R30 000,00 op 3 April 2006 aan die respondent betaal is.
Mnr Olivier het, terwyl hy blykbaar aanvaar het dat ân bedrag van R30 000,00 dan aan die respondent oorbetaal moes gewees het, geargumenteer dat dit steeds nie uit die betrokke bankstaat geblyk het of die oorbetaling dalk om ân ander rede as vir ân lening was nie en of dit nie in elk geval dalk al terugbetaal was nie. Hierdie is blatante spekulasie wat nie versoenbaar is met die getuienis wat onder eed deur die applikant en die respondent voor die Hof geplaas is nie.
Die applikant het ook ân staat voorgelê waaruit die respondent se verskuldigheid soos op 31 Augustus 2006 blyk en waaruit dit duidelik blyk hoe rente gedebiteer is. Die feit dat rente daarvolgens eers vanaf Mei 2006 gedebiteer is, en nie vanaf April 2006 ( soos die kontrak voor voorsiening maak) nie, doen nie na my oordeel enige afbreuk aan die applikant se saak in hierdie verband nie.
Die applikant se beweringe oor die lening is in alle wesenlike opsigte deur die respondent gestaaf onder eed. Die respondent het boonop verduidelik presies waarvoor en waarom die lening nodig was en wat met die geld gedoen is. Me le Roux het op daardie stadium ân egskeidingsgeding teen die respondent ingestel en die respondent se inkomste uit ân beslote korporasie waarvan me le Roux die lid was, sou tot ân einde kom. Die respondent se oortrokke fasiliteit is ook opgeroep en hy het toe polisse te gelde gemaak en die betrokke bedrag by die applikant geleen om sy skuld aan die bank te betaal en om te begin met veespekulasie om ân inkomste te probeer verdien.
Die toetredende skuldeiser het gewag gemaak daarvan dat die respondent, blykens antwoorde van hom tydens ân ondervraging gedurende November 2005, oor ân oortrokke fasiliteit by ân bank beskik het en dit is op daardie basis aan die hand gedoen dat dit dan vreemd sou gewees het vir die respondent om geld te gaan leen by die applikant. Dit blyk egter uit dieselfde oorkonde dat die respondent se oortrokke fasiliteit beperk was tot R30 000,00 en dat sy saldo reeds toe al reg by die betrokke limiet gelê het. Die respondent se stelling dat dié fasiliteit in elk geval gedurende Januarie 2006 gestop is, staan onweerspreek.
Die toetredende skuldeiser het ook aangevoer dat die feit dat, indien die respondent dan al ingevolge die leningsooreenkoms vanaf 1 Junie 2006 reeds moes begin het met die betaling van maandelikse paaiemente (maar versuim het om dit te doen), die applikant eers op 14 September 2006 ân aanmaningskrywe aan hom gerig het, ook aanduidend daarvan is dat daar nie werklik ân ooreenkoms gesluit is soos beweer deur die applikant nie.
Mnr Kruger het egter nou verduidelik dat daar 60 dae grasie gegee word aan alle kliënte voordat stappe geneem word en in elk geval sou die blote versuim om vroeër stappe te neem sekerlik nie kon lei tot die afleiding, as die mees waarskynlike, dat daar dan in werklikheid nooit geld geleen en voorgeskiet is nie.
Op die getuienis is dit totaal vergesog dat die beweringe van ân lening vals sou wees, of selfs dat die lening bloot aangegaan is om ân vordering te bewerkstellig vir die doeleindes van sekwestrasie.
Wat die laasgemelde moontlikheid betref, is dit so dat die leningskontrak onderteken is en die geld oorbetaal is meer as vyf maande voordat die respondent voor die Landdros sou moes verskyn. Inteendeel, die artikel 65A(1)-kennisgewing (en meegaande sertifikaat) is eers op 30 Julie 2006 onderteken, en dus in elk geval ook meer as vier maande nadat die leningsooreenkoms onderteken is.
Dit is verder vergesog dat die applikant, die respondent en me Le Roux, ân prokureur, almal kop-in-een-mus en onderduims te werk sou gegaan het om ân leningsooreenkoms te vervals en om ân bedrag van soveel as R30 000,00 aan die respondent oor te betaal net om valslik die skyn van ân lening te verwek.
Mnr Olivier het aangevoer dat daar, ten spyte van die feit dat die respondent en me Le Roux ook sedertdien geskei is, steeds ân noue band tussen hulle bestaan. Hy het in hierdie verband gewys op die feit dat me Le Roux se naam ook verskyn op die lys van getuies wat die toetredende skuldeiser wou ondervra in die artikel 65A(1)-verrigtinge en het aan die hand gedoen, klaarblyklik, dat die respondent baie graag sou wou vermy dat me Le Roux so ondervra word. Selfs al sou dit so wees, sou die motief nie noodwendig deurgetrek kon word na die applikant nie en in elk geval sou ân sekwestrasieproses ook maar die gevaar van ân ondervraging inhou.
Die tydsberekening van die ondertekening van die leningskontrak en van die oorbetaling strook met die feit dat die respondent van die begin van 2006 af geen inkomste of hulp meer van me Le Roux se kant gekry het nie en sou moes begin om ân eie inkomste te probeer genereer uit veespekulasie, terwyl sy oortrokke fasiliteit op dieselfde stadium opgeskort is.
Dit volg dus dat ek van oordeel is dat die applikant wel ân behoorlike saak daarvoor uitgemaak het dat dit oor die nodige vordering beskik.
Wat die kwessie van voordeel vir die skuldeisers betref, is ek eweneens tevrede dat die applikant ân behoorlike saak uitgemaak het. Nadat me Le Roux haar eis teen die respondent abandoneer het, blyk daar ân verwagte dividend van ongeveer 18 sent in die rand te wees, wat na my oordeel voldoende is. Tewens, as daar meriete sou wees in die toetredende skuldeiser se beweringe dat die respondent oor meer bates beskik as wat nou uit die stukke blyk, sal die verdere voordeel van ân sekwestrasieproses wees dat die kurator die nodige ondersoek daarna sou kon instel, wat mag lei tot selfs ân groter finansiële voordeel vir skuldeisers.
Namens die toetredende skuldeiser het mnr Olivier geargumenteer, met verwysing na die beslissing van Gardee v Dhanmanta Holdings and Others 1978 (1) SA 1066 (N), dat die proses ingevolge artikel 65 van die Wet op Landdroshowe meer voordelig sou wees as ân sekwestrasieproses, veral uit ân koste-oogpunt gesien, en dat daar op hierdie basis bevind moet word dat die sekwestrasie van die respondent se boedel nie in die belang van sy skuldeisers sou wees nie. Daar is ondermeer groot klem gelê op die submissie dat artikel 65 vir skuldeisers dieselfde voordele inhou as die sekwestrasieproses wat betref die ondervraging van getuies en die soeke na bates, maar teen ver minder onkoste.
Dit is so dat daar op die stukke nou slegs twee skuldeisers is, naamlik die applikant en die toetredende skuldeiser. Mnr Olivier se argument was dat niks die applikant verhoed om ook ân vonnis teen die respondent te kry en om dan stappe ingevolge artikel 65 teen die respondent in te stel nie. Volgens mnr Olivier sou die twee skuldeisers se prosesse dan saam kon loop. Klem is ook gelê op die betreklik klein deel van sy vordering wat die applikant gaan realiseer deur middel van die sekwestrasieproses, teen ân dividend van 18 sent in die rand.
Op my vraag of twee kompeterende skuldeisers dan ingevolge die artikel 65-prosedure ook in die posisie sou kon land waar hulle, soos by sekwestrasie, as konkurente skuldeisers eweredig sou kon deel in die respondent se boedel, het mnr Olivier met verwysing na artikel 65A(1) van die Wet op Landdroshowe aan die hand gedoen dat die Landdros in hierdie verband die bevel sou kon maak wat in die omstandighede reg en billik is en dat dit tot so ân verdeling sou kon lei.
Mnr Olivier kon my egter na geen gesag in hierdie verband verwys nie. Die feit is dat ân kompeterende skuldeiser in so ân geval op die oog af uitgelewer sou wees aan die Landdros se diskresie. Dit mag wees dat die Landdros besluit om, omdat die toetredende skuldeiser eerste stappe geneem het, voorkeur aan die toetredende skuldeiser te verleen wat betref die eerste, en tans enigste, bates wat beskikbaar is vir verdeling. Dit sou die applikant kon laat met geen vergoeding nie, teenoor dit wat die applikant darem deur middel van ân sekwestrasieproses sou kon kry.
Artikel 65C van die Wet op Landdroshowe sou in elk geval slegs die gesamentlike hantering van meerdere skuldeisers se verrigtinge veroorloof waar hulle kennisgewings dieselfde verhoordatum bevat het.
Ek is gevolglik hoegenaamd nie tevrede dat die artikel 65- prosedure vir die applikant as skuldeiser ân oorweegbare alternatief sou kon bied tot ân aansoek om sekwestrasie nie. Mnr Olivier se argument dat die artikel 65-proses dieselfde voordeel sou inhou wat ondervraging en die soek na verdere bates betref as by ân sekwestrasieproses, val ietwat vreemd op in die lig van sy eie submissie dat so ân ondervraging op hierdie stadium niks meer sal oplewer nie; volgens hom weens die tyd wat reeds verstryk het sedert die respondent van die betrokke bates ontslae geraak het.
Op die feite is die Gardee-saak ook van die onderhawige geval te onderskei. In die Gardee-saak was daar slegs een skuldeiser en het die gevaar dus nie bestaan dat ân alternatiewe metode van skuldvordering vir die betrokke skuldeiser dalk niks kon oplewer nie.
Mnr Olivier het ook aan die hand gedoen dat die artikel 65-proses die voordeel inhou dat ân skuldeiser weer en weer sou kon probeer om sy geld te kry en het aangevoer dat die posisie by sekwestrasie die teenoorgestelde is en dat die sekwestrasiebevel ân skuldeiser vir ewig bevry van sy of haar laste soos op daardie stadium. Dit is natuurlik nie heeltemal so eenvoudig nie. As die respondent op die een of ander latere stadium, na sy sekwestrasie, oor die fondse sou beskik om ân bydrae te maak aan skuldeisers wat ân klein dividend ontvang het, en kan sy rehabilitasie daarvan afhanklik gemaak word (sien Insolvency Law, Meskin, par. 14.4.1).
Die prentjie wat mnr Olivier geskilder het dat die sekwestrasie van die respondent se boedel vir hom ân uitkoms gaan wees en ân einde aan sy probleme gaan maak, is dus nie heeltemal so eenvoudig nie. Dit is in elk geval ontersaaklik watter voordeel die sekwestrasie van sy boedel vir die respondent sal inhou. Dit gaan hier om wat tot voordeel van sy skuldeisers sal wees en in hierdie verband is soos volg na die meganisme van sekwestrasie verwys in Chenille Industries v Vorster 1953 (2) SA 691 (O) op 699:
ïg..... the superior legal machinery which creditors acquire by sequestration, the right to control the collection, custody and disposal of all the assets through their nominee, the trustee, the right to control similarly the sale of the assets, the certainty that the insolvent cannot contract further debts and diminish the estate and the assurance that all creditors will be accorded the treatment prescribed by law in the division of the proceedsâ.
Dit is nie in geskil dat die respondent op die beskikbare getuienis insolvent is nie, en dat hy dade van insolvensie gepleeg het, is nie in argument namens die toetredende skuldeiser aangeveg nie.
Die toetredende skuldeiser het by herhaling beweer dat die aansoek om sekwestrasie die produk is van ân samespanning tussen die applikant en die respondent en dat dit neerkom op misbruik van die proses. Die bewyslas in hierdie verband was natuurlik op die toetredende skuldeiser (sien Yenson & Co v Garlick 1926 WLD 53 op 56).
Meer spesifiek is deur die toetredende skuleiser aangevoer dat die doel van die aansoek eintlik is om te verhoed dat die respondent en andere ingevolge die bepalings van artikel 65 van die Wet op Landdroshowe ondervra word. Indien dit waar was, sou ân mens egter verwag het dat die aansoek om sekwestrasie gebring sou gewees het voor 11 September 2006, toe die respondent veronderstel was om vir die eerste keer voor ân Landdros te verskyn het. Dit het nie gebeur nie. Die aanmaningsbrief is eers op 14 September 2006 aan die respondent gerig. Dat die bevel toe bekom is op 6 Oktober 2006 (terwyl die saak in die Landdroshof uitgestel was tot 16 Oktober 2006) neem ook nie juis die saak verder nie. Die applikant het ân gegronde vrees gehad dat die toetredende skuldeiser eksekusiestappe kon neem tot die nadeel van die applikant.
In betoog namens die toetredende skuldeiser is gewys daarop dat die kennisgewing van mosie in die aansoek om sekwestrasie gedateer is 2 September 2006. Dit is na my oordeel ân duidelike fout. Die Griffier se stempels daarop is 3 Oktober 2006 gedateer en daar is geen rede waarom die kennisgewing van mosie al op 2 September onderteken sou gewees het deur die applikant se prokureur, en dan eers op 3 Oktober ingedien sou gewees het nie. Die funderende eedsverklaring van Kruger is ook eers op 2 Oktober afgelê.
Hierdie is in elk geval ân tweesnydende swaard, want indien die applikant al op 2 September 2006 sekwestrasiestappe oorweeg het, kon die applikant maklik al ân aansoek om sekwestrasie geloods het nog voor die eerste datum waarop die respondent voor ân Landdros moes verskyn het.
Gewag is ook gemaak van die feit dat die respondent se skrywe, waarin hy erken het dat hy die applikant nie op daardie stadium kon betaal nie, op dieselfde datum gedateer is as die applikant se funderende eedsverklaring en dat dit ook gerig moes gewees het nog voordat die respondent die applikant se geregistreerde aanmaning kon ontvang het.
Dit blyk egter dat Kruger intussen, dit wil sê nadat die geregistreerde stuk versend is en nog voordat dit deur die respondent ontvang is, nie alleen telefonies met die respondent gepraat het oor die feit dat hy nie begin het om die ooreengekome paaiemente te betaal nie, maar ook ân afskrif van dieselfde aanmaningskrywe per faks aan die respondent voorsien het.
Hierdie verduideliking is nie alleen onder eed verskaf nie, maar dit blyk dan ook duidelik uit die respondent se skrywe van 2 Oktober 2006, waar hy met die woorde âSoos reeds gesêâ duidelik verwys het na minstens een voorafgaande gesprek tussen hom en Kruger.
Dat die applikant onder daardie omstandighede teen 2 Oktober 2006 al gereed sou gewees het om stappe te neem om sy belange te beskerm, sou nie vreemd wees nie.
Verder is gesinspeel daarop dat die respondent oneerlik was deur te kenne te gee dat al sy polisse gesedeer was aan me Le Roux. Dit blyk duidelik uit die toetredende skuldeiser se eie stukke dat die respondent nooit so te kenne gegee het nie en dat hy lankal die bestaan en beskikbaarheid van sy annuïteitpolisse openbaar het.
Daar is aangevoer dat die applikant die prokureur en kliënt deel van sy koste nie sou terugkry nie en dat die voordeel in ân sekwestrasieproses vir die applikant dan so min gaan wees dat dit nooit die applikant se beweegrede vir die aansoek kon gewees het nie. Afgesien daarvan dat die versuim om aansoek te doen om sekwestrasie daartoe kon gelei het dat die applikant heeltemal geen deel van sy vordering kry nie, is daar in elk geval gesag tot die effek dat die koste van sekwestrasie, na verwys in artikel 97 van die Insolvensiewet, getakseer sal word op die prokureur-en kliëntskaal (sien Brooks v Taxing Master and Another 1960 (3) SA 225 (N)).
Die toetredende skuldeiser het tot op ân stadium aangevoer dat ene mnr Stander, ân werknemer van Corporate Liquidators (Pty) Ltd en wat saam met ân prokureur van Upington aangestel is as een van twee mede-kuratore in die bereddering van die respondent se boedel, dieselfde persoon was as ân mnr Stander wat voorheen as prokureur vir die respondent opgetree het in ân geding tussen haar en die respondent. Dit het sedertdien geblyk nie dieselfde persoon te wees nie.
Soos reeds gemeld, is daar heelwat aanduidings dat die aanvanklike aansoek om sekwestrasie nie die produk was van selfs bloot samewerking tussen die applikant en die respondent nie. Indien dit anders was, sou ân mens verwag het dat Kruger reeds op daardie stadium sou geweet het dat die respondent darem nog nie op 11 September 2006 voor die Landdros verskyn het nie en dat Kruger op daardie stadium reeds sou te kenne gegee het dat hy darem oor selfs basiese kennis beskik het van die respondent se bates en laste.
Ek moet darem sê dat mnr Olivier, ten spyte van die toetredende skuldeiser se herhaalde beskuldigings van ân samespanning, nie bereid was om self te argumenteer dat daar ân samespanning was nie, en na my oordeel wyslik so.
Ek is tevrede dat daar nie ân onbehoorlike samespanning was tussen die applikant en die respondent nie. Selfs al sou daar egter ook so ân samespanning geblyk het, sou ek steeds nie my diskresie uitgeoefen het deur die voorlopige sekwestrasiebevel op te hef of tersyde te stel nie (vergelyk Lawclaims (Pty) Ltd v Rea Shipping Co SA 1979 (4) SA 745 (N) op 755).
Dat die toetredende skuldeiser egter wel hierdie bewering oor en oor gemaak het, en ongegronde bewerings gemaak het soos dié rakende die kurator, is van belang vir soverre dit getuig van ân gesindheid wat sou inpas by wat sy volgens die respondent hom sou meegedeel het, naamlik dat sy hom sou âjag totdat (hy) vrekâ en dat sy sou sorg dat die respondent in die tronk beland. Dit blyk dan ook duidelik uit die toetredende skuldeiser se eedsverklaring van 31 Oktober 2006 dat dit is hoe sy die artikel 65-proses beskou het.
Namens die toetredende skuldeiser is gewys op haar bewering dat die respondent sou gesê het dat hy sou sorg dat sy nie haar geld van hom kry nie. Die eenvoudige antwoord hierop is natuurlik dat dit nie hier gaan oor die respondent en sy motiewe nie. Dit gaan oor wat in die belang van sy skuldeisers as ân groep sou wees, al is daar ook net twee van hulle.
Die grootste gedeelte van die respondent se bates (minstens soos wat dit op die stukke blyk) is reeds te gelde gemaak, met goedkeuring van die toetredende skuldeiser. Die bereddering van die respondent se boedel in terme van die Insolvensiewet sal ook die respondent se skuldeisers as ân groep bevoordeel, terwyl die proses ingevolge artikel 65 van die Wet op Landdroshowe die toetredende skuldeiser alleen sou bevoordeel.
Na my oordeel behoort die voorlopige sekwestrasiebevel dus bekragtig te word.
In die bevel waarin aan die toetredende skuldeiser verlof verleen is om toe te tree, is genotuleer dat die toetredende skuldeiser âhaar regte voorbehou het oor die toelaatbaarheid, al dan nie van die liassering van verdere stukke deur Applikantâ. Daar is dan toe ook daarna verdere stukke deur die applikant geliasseer.
By die aanhoor van die aansoeke is op geen stadium namens die toetredende skuldeiser aangevoer dat dié stukke van die applikant ontoelaatbaar was nie; na my oordeel tereg. Dié stukke is geliasseer in antwoord op ân tweede stel stukke van die toetredende skuldeiser. Dit is tydig ingedien en niemand is daardeur benadeel nie. Inteendeel, ek is van oordeel dat die betrokke stukke in belang van regspleging toegelaat sou moes word (sien Shepherd v Mitchell Cotts Seafreight (SA) (Pty) Ltd 1984 (3) SA 202 (T) en Ganes and Another v Telecom Namibia Ltd 2004 (3) SA 615 (SCA) op 625 D-G).
Dit bring my by die aspek van koste. Ek meen dat daar geen rede is waarom die koste nie die uitslag behoort te volg nie.
Mnr Olivier het namens die toetredende skuldeiser geargumenteer dat haar toetrede en optrede nie onredelik was nie en dat, selfs al sou die voorlopige sekwestrasiebevel bekragtig word, die toetredende skuldeiser se koste deel van die sekwestrasiekoste behoort te wees. Selfs al sou so ân bevel moontlik gewees het (vergelyk Lowenstein and Moffet (Pty) Ltd v Rawlins 1964 (3) SA 207 (O) op 208, maar sien ook Insolvency Law, supra, par 2.1.14.3 en Law of Costs, Cilliers, par 10.20), sou ek egter nie so ân bevel as gepas beskou het in die onderhawige geval nie.
Nie alleen was daar na my oordeel geen meriete in die toetredende skuldeiser se aansoek om opheffing/tersydestelling van die voorlopige sekwestrasiebevel nie, maar ook het sy die stukke onnodig beswaar met inligting wat glad nie tersaaklik was vir doeleindes van die onderhawige geskilpunte nie. So het sy die geheel van ân transkripsie aangeheg van ân ondervraging van die respondent, welke transkripsie strek vanaf bladsy 147 van die stukke tot by bladsy 215 daarvan, maar slegs na een bladsy daarvan verwys.
Die toetredende skuldeiser het ân 30 bladsy lange uitspraak aangeheg in ân saak waarin sy en die respondent betrokke was, en verwys na een bladsy daarvan waar bevind is dat die respondent nie met skoon hande Hof toe gegaan het nie. Daardie opmerking het egter gegaan oor die respondent se optrede rondom sy toegang tot hulle minderjarige kind en was vir doeleindes van die onderhawige saak totaal ontersaaklik. Ek het reeds verwys na die respondent se ongegronde bewering ten aansien van die een kurator, mnr Lourens.
Wat betref die koste verbonde aan die uitstel van 23 Maart 2007, wat oorgehou is vir latere beregting, meen ek dat mnr Olivier gelyk gegee moet word in sy submissie dat dit koste in die geding behoort te wees. Daar is geen inligting voor my geplaas wat daarop dui dat enige spesifieke party te blameer was vir die uitstel nie en ek meen ook nie dat die blote feit van die toetredende skuldeiser se aansoek en opposisie haar vir dié verspilde koste aanspreeklik behoort te maak nie.
In die omstandighede word die volgende bevele hierin gemaak:
DIE VERSPILDE KOSTE TEWEEGGEBRING DEUR DIE UITSTEL VAN 23 MAART 2007 SAL KOSTE IN DIE GEDING WEES.
2. DIE TUSSENBEIDETREDENDE SKULDEISER SE AANSOEK OM DIE OPHEFFING/TERSYDESTELLING VAN DIE VOORLOPIGE SEKWESTRASIEBEVEL VAN 6 OKTOBER 2006 WORD MET KOSTE AFGEWYS EN DIE TUSSENBEIDETREDENDE SKULDEISER WORD GELAS OM OOK DIE KOSTE TEWEEGGEBRING DEUR HAAR TOETREDE EN OPPOSISIE VAN DIE AANSOEK OM SEKWESTRASIE TE BETAAL.
3. DIE RESPONDENT SE BOEDEL WORD FINAAL GESEKWESTREER EN DIE GEMELDE VOORLOPIGE SEKWESTRASIEBEVEL WORD BEKRAGTIG, BEHOUDENS WAT REEDS GELAS IS TEN AANSIEN VAN DIE KOSTE.
_______________________
C J OLIVIER
REGTER
NOORD-KAAPSE AFDELING
Namens : Applikant Adv N Davis SC
In opdrag van: Engelsman, Magabane Ing, Kimberley
Namens : Respondent Adv J W Olivier SC
In opdrag van: Haarhoffs Ing, Kimberley