S v Mokgobo and Others (K/S 99/04) [2005] ZANCHC 117 (25 May 2005)
The court found that all accused, except for accused 4, were present at the planning and execution of the housebreaking and robbery at the deceased's home. The evidence, including admissions, accomplice testimony, and physical evidence, established that accused 1 shot the deceased during the robbery, and all accused...
Source-derived case information.
- Citation
- [2005] ZANCHC 117
- Parties
- Applicant: The State; Defendant: Piet Obakeng Mokgobo; Defendant: Tebogo Israel Louw; Defendant: Monnapule Hendrik Dithole; Defendant: Kgosimang Collen Monageng; Defendant: Andries Tuelo Motati
- Court
- Northern Cape High Court, Kimberley
- Jurisdiction
- South Africa
- Case Number
- K/S 99/04
- Procedural Posture
- Criminal Trial / Judgment
- Outcome
- Accused 1, 2, 3, and 5 were convicted on various charges as set out below. Accused 4's verdict is not specified in the judgment extract.
- Judges
- Goliath
- Legal Topics
- Housebreaking With Intent to Rob, Aggravating Circumstances, Murder, Possession of Unlicensed Firearm, Possession of Ammunition
Source-derived case record
Summary, issues, holding and outcome
More case intelligence is available
Unlock the full research layer for this judgment.
Parties
The State
Applicant
Piet Obakeng Mokgobo
Defendant
Tebogo Israel Louw
Defendant
Monnapule Hendrik Dithole
Defendant
Kgosimang Collen Monageng
Defendant
Andries Tuelo Motati
Defendant
Procedural Posture
Criminal Trial / Judgment
Legal Issues
- 1 Whether the accused are guilty of housebreaking with intent to rob under aggravating circumstances.
- 2 Whether the accused are guilty of murder of Johannes Pretorius.
- 3 Whether accused 1 and 5 are guilty of possession of an unlicensed firearm and ammunition.
Ratio Decidendi
The court found that all accused, except for accused 4, were present at the planning and execution of the housebreaking and robbery at the deceased's home. The evidence, including admissions, accomplice testimony, and physical evidence, established that accused 1 shot the deceased during the robbery, and all accused shared a common purpose. The court was not satisfied that a conspiracy to murder was proven beyond reasonable doubt, as the evidence did not show a clear agreement to kill. However, the accused foresaw the possibility of death resulting from their actions and proceeded regardless. Accused 1 and 5 were found to have possessed the firearm and ammunition unlawfully. The court...
Court Disposition
Accused 1, 2, 3, and 5 were convicted on various charges as set out below. Accused 4's verdict is not specified in the judgment extract.
Orders
- Accused 1 is found guilty on charges 1 (housebreaking with intent to rob under aggravating circumstances), 2 (murder), 3 (possession of unlicensed firearm), and 4 (possession of ammunition).
- Accused 2 is found guilty on charges 1 (housebreaking with intent to rob under aggravating circumstances) and 2 (murder); not guilty on charges 3 and 4.
Full Case Text
Judgment text and source record
129 paragraphs
Verslagwaardig: JA / NEE
Sirkuleer aan Regters: JA / NEE
Sirkuleer aan Landdroste JA / NEE
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(Noord-Kaapse Plaaslike Afdeling)
Saak nr. : K/S 99/04
Datum verhoor: 20/05/2005
Datum gelewer: 25/05/2005
In die saak tussen:
DIE STAAT
teen
PIET OBAKENG MOKGOBO 1ste BESKULDIGDE
TEBOGO ISRAEL LOUW 2de BESKULDIGDE
MONNAPULE HENDRIK DITHOLE 3de BESKULDIGDE
KGOSIMANG COLLEN MONAGENG 4de BESLULDIGDE
ANDRIES TUELO MOTATI 5de BESKULDIGDE
Coram: GOLIATH WnR
UITSPRAAK
Goliath WnR:
Die vyf beskuldigdes staan tereg aan vier aanklagtes. Die bewerings in die akte van beskuldiging is:
1.1 Aanklag 1
Huisbraak met die opset om te roof en poging om te roof met verswarende omstandighede soos omskryf in artikel 1 van Wet 51 van 1977 deurdat die beskuldigdes op of omtrent 14 April 2004 te of naby Perseel VH 13, Jan Kempdorp, in die distrik van Hartswater wederregtelik en met die opset om te roof die woonhuis van Johannes Pretorius oopgebreek en binnegegaan het en wederregtelik en met die opset om hom tot onderwerping te dwing vir Johannes Pretorius met `n vuurwapen geskiet het. Die bewering is verder dat verswarende omstandighede aanwesig is deurdat die beskuldigdes en of medepligtiges tydens die pleging van die misdryf, hetsy voor, gedurende of na die pleging van die misdryf `n vuurwapen en `n ander gevaarlike wapen te wete `n kapmes, hanteer het en vir Johannes Pretorius ernstige liggaamlike beserings toegedien het.
1.2 Aanklag 2
Moord deurdat die beskuldigdes op of omtrent dieselfde dag en plek wederregtelik en opsetlik vir Johannes Pretoruis, `n volwasse man gedood het. Die bewerings is verder dat die bepalings van artikel 51(1)(a) van die Strafproseswet 105 van 1997 van toepassing is.
1.3 Aanklag 3
`n Oortreding van artikel 2 gelees met artikel 1, 39(1)(h) en 39(2)(b)(i) van Wet 75 van 1969 deurdat die beskuldigdes op dieselfde datum en plek wederregtelik in besit van `n kaliber .220 geweer met reeksnommer 110618 was sonder dat hulle die houers was van `n toepaslike lisensie.
1.4 Aanklag 4
`n Oortreding van artikel 36 gelees met artikel 1,2,39(2)(b)(i) van Wet 75 van 1969 deurdat die beskuldigdes op dieselfde datum en plek in besit van amunisie te wete kaliber .220 rondtes was sonder om in regmatige besit te wees van `n vuurwapen waaruit daardie ammunisie afgevuur kon word.
Die beskuldigdes is almal regsverteenwoordig. Adv. P.J Cloete verskyn namens Beskuldigdes 1 en 2, Adv. M. Muhlohlonyi verskyn namens beskuldigde 3, Mr. L. Jooste verskyn namens beskuldigde 4 en Adv. B. Segone verskyn namens beskuldigde 5. Beskuldigde 1 het skuldig gepleit aan huisbraak met die opset om te roof, moord, besit van vuurwapen asook besit van ammunisie. `n Pleitverduideliking in terme van artikel 112(2) is namens hom ingehandig as bewysstuk âAâ. Aangesien sekere erkennings deur beskuldigde nie ooreenkom met die wesenlike feite soos aangevoer deur die Staat nie, het die Staat gevolglik nie die pleit van skuldig op aanklagtes 1 en 2 aanvaar nie. `n Pleit van onskuldig in terme van artikel 113 van die Strafproseswet is genotuleer ten opsigte van hierdie twee aanklagtes. Die hof het geen bevinding op aanklagtes 3 en 4 op daardie stadium gemaak nie.
Beskuldigdes 2 en 5 het skuldig gepleit aan huisbraak met die opset om te roof en moord, maar onskuldig op aanklagtes 3 en 4. Hul verklarings in terme van artikel 112(2) is ingehandig as bewysstukke âBâ en âFâ. Ook in hul geval is `n pleit van onskuldig genotuleer op aanklagtes 1 en 2 aangesien die Staat nie die pleit aanvaar het nie.
Beskuldigdes 3 en 4 het onskuldig gepleit op al die aanklagtes hul ten laste gelê. Beide het egter sekere erkennings gemaak wat as formele erkennings terme van artikel 220 van die Strafproseswet genotuleer is en ingehandig as bewysstukke âCâ en âEâ. Beide erken die identiteit van die oorledene asook die sogenaamde ketting naamlik dat die oorledene geen verdere beserings vanaf die skietvoorval tot en met die uitvoering van die lykskouing opgedoen het nie. Verder erken hulle die inhoud van die lykskouingsverslag asook die oorsaak van dood. Die regsverteenwoordigers van beskuldigdes 1, 2 en 5 het aangedui dat ook diè beskuldigdes die inhoud van die lykskouingsverslag erken. Die verslag is gemerk bewysstuk âDâ. By ooreenkoms is `n fotobundel ingehandig as bewysstuk âGâ.
Die Staat het Mr Olehile Kenneth Mokgobo geroep as `n artikel 204 getuie. Hy is 18 jaar oud en die broer van beskuldigde 1 wie se bynaam John Tate is. Beskuldigde 2 se bynaam is Dasie. Hy getuig Dinsdagaand 13 April 2004 was hulle almal behalwe beskuldigde 5 by beskuldigde 2 se woning te Ganspan. Daar het `n gesprek tussen hulle plaasgevind onder andere dat niemand werk bekom het nie en dat hulle geld benodig. Beskuldigde 3 het voorgestel dat hulle geld kon kry by `n perseel waar hy vroeër werksaam was. Hulle het besluit om later die aand te ontmoet om die aangeleentheid verder te bespreek. Hulle het weer die aand by beskuldigde 2 se woning ontmoet maar hierdie keer was Dawid Lesenyo en beskuldigde 5 ook saam. Hier het hulle verder beplan dat hulle die oorledene gaan beroof en doodmaak. Hulle sal dan die oorledene se vrou beveel om die geld te gee en haar ook doodmaak. Die liggame van die oorledene en sy vrou sal dan in die voertuig se kattebak geplaas word en in die kanaal gegooi word met gewigte.
Na die aangeleentheid bespreek is het beskuldigde 2 `n breekyster geneem en beskuldigde 4 (Ronnie) het `n mes geneem. Beskuldigde 5 het na `n tuin oorkant beskuldigde 2 (Dasie) se woning gegaan en `n geweersak gaan haal. Die geweersak is ingehandig by die hof as bewysstuk 1. Die getuie het met behulp van die fotobundel hul bewegings verduidelik en hoe hulle by die bosse oorkant die oorledene se huis gesit en wag het. Ongeveer 15h30 het beskuldigde 1 `n werker op `n trekker genader en navraag gedoen of die oorledene daar was. Die persoon, bekend as Oupa Nyana het aangedui dat hy nie seker is of die oorledene daar is nie en dat hy van diens af gaan. Daarna het hulle besluit om in te gaan. Beskuldigde 5 het die vuurwapen aan beskuldigde 1 oorhandig en hulle het nader aan die huis beweeg. Beskuldigde 4 het aan beskuldigde 3 die mes oorhandig. Hy en beskuldigde 4 (Ronnie) het die stoele voor die deur weggeskuif. Hy het die sekuriteitsdeur gebreek. Beskuldigde 4 het die breekyster geneem en die deur verder oopforseer.
Hy, beskuldigde 4 en beskuldigde 1 het die huis binnegegaan. Beskuldigde 2 was buite by die voordeur besig om die ander te roep toe die oorledene skielik sy verskyning maak. Volgens hom was beskuldigde 1 onder die indruk dat die oorledene hulle wou skiet en het hy die sneller getrek en die oorledene een maal raakgeskiet. Die skoot het almal laat skrik en hulle het weggehardloop. Hy en beskuldigde 4 (Ronnie) het saam weghardloop. Hy het die geweersak by hom gehad. Hulle het hulself in die bosse versteek. Hy het helikopters opgemerk asook dat daar boere was op soek na hulle. Hy en beskuldigde 4 (Ronnie) het die nag in die bosse deurgebring en hy is die volgende oggend huistoe. Sy vader het hom gevra waar beskuldigde 1 was en hy het gesê by Kgomotso. Hy is egter later die aand deur die polisie by sy woning gearresteer.
Mevrou Jacoba Dorathea Christina Pretorius het getuig dat sy en die oorledene, haar man, 45 jaar op die plaas geleë te Perseel VH 13 Jan Kempdorp woonagtig is. Op 14 April 2004 was hulle heeldag tuis. Na middagete het hulle televisie gekyk. Sy was besig om te brei en haar man het `n Landbouweekblad tydskrif gelees. Die veiligheidsdeur was gesluit maar die houtdeur was nie gesluit nie. Hulle het `n geluid gehoor en haar man het ondersoek gaan instel. Onmiddelik daarna het sy `n skoot gehoor. Sy het in die rigting van die skoot beweeg. Die oorledene het haar gestop en die middeldeur toegemaak. Hy was gewond. Sy het die dokter gekontak en per minuet radio haar buurvrou in kennis gestel van die voorval. Daar het nog ander persone opgedaag en die oorledene bygestaan. Hy is na die hospitaal geneem waar hy dan oorlede is.
Dawid Lesenyo is ook geroep as `n artikel 204 getuie. Hy is 18 jaar oud en ken vir beskuldigde 1 wie se bynaam John Tate is. Op Maandag 12 April 2004 was hy by beskuldigde 2 (Dasie) se plek. Al die beskuldigdes asook hy en Kenneth Mokgobo was teenwoordig. Daar het hulle die saak bespreek dat hulle Dinsdag, die volgende dag, na die oorledene se woning sou gaan om geld te soek. Hulle sou eers die oorledene skiet en dan die oorledene se vrou beveel om geld aan hulle te oorhandig. Dinsdag het hulle almal weer bymekaargekom by beskuldigde 2 (Dasie) se woning. Ongeveer 6 uur het hulle na die oorledene se perseel vertrek. Toe hulle vertrek het hy gesien hoe beskuldigde 5 (Tuelo) `n vuurwapen uithaal by die bosse oorkant beskuldigde 2 (Dasie) se woning. Toe hulle uiteindelik vertrek het beskuldigde 4 (Ronnie) `n breekyster by hom gehad en beskuldigde 3 (Monnapule) het `n kapmes gehad.
Beskuldigde 3 het die roete aan hulle uitgewys oppad na die oorledene se woning. Toe hulle daar kom was dit reeds donker. Hy het opgemerk dat die honde blaf en die ligte van die huis was aangeskakel. Hulle het toe die bosse ingegaan en die aand daar deurgebring. Die volgende oggend het hulle verder in die bosse inbeweeg en `n vuur gemaak waar hulle lank vertoef het. Hulle het ongeveer 3 uur die middag nader na die huis beweeg. Hulle het die pad oorsteek en die erf binnegetree. Daar het `n voertuig verby gery en hulle het hulself agter die bome versteek.
Beskuldigde 1, Kenneth Mokgobo en beskuldigde 4 het in die rigting van die voordeur beweeg. Beskuldigde 1 het die vuurwapen gehad, beskuldigde 4 het die mes gehad en Kenneth Mokgobo het die breekyster gehad. Hy, beskuldigde 2, beskuldigde 3 en beskuldigde 5 was buite die woning langs die muur. Hy het gehoor die oorledene vra wat soek hulle, toe gaan `n skoot af. Nadat die skoot afgegaan het, het hy, beskuldigde 2 en beskuldigde 5 weggehardloop. Hy het opgelet dat beskuldigde 1 die vuurwapen na beskuldigde 5 gooi terwyl hulle almal wegbeweeg het vanaf die perseel. Hy en beskuldigde 1 het saam die bosse in gehardloop. Hy het opgemerk dat daar helikopters in die lug was. Hulle twee het besluit om nie verder te beweeg nie en is toe later daar in die bos gevind en gearresteer.
Sylvia Louw het getuig dat sy 23 jaar oud is en woonagtig is by perseel 49 Ganspan, Jan Kempdorp. Sy is die suster van beskuldigde 2. Beskuldigde 4 (Ronnie) was woonagtig by hul ouerhuis ten tye van die voorval. Op 13 April 2004 was sy heeldag tuis. Haar broer en beskuldigde 4 was tuis vanaf 6 uur tot ongeveer 8h30. Beskuldigde 1, Kenneth Mokgobo, Dawid Lesenyo, Monnapule en Tuelo het almal saam by hul woning opgedaag. Almal het in die sitkamer gesit en sy het opgestaan en na haar eie kamer gegaan. Hulle is almal later saam daar weg. Op Donderdag het sy weer haar broer gesien ongeveer 4 uur die middag. Hy het `n groen sweetpak aangehad wat hy in die vullisblik gegooi het. Later het beskuldigde 4 (Ronnie) ook daar opgedaag. Inspekteur Nortje het op `n later stadium die broek vanaf die vullishoop geneem en gekonfiskeer.
Lukas Rooi getuig dat hy werksaam was by die oorledene vir ongeveer 31 jaar. Hy was twintig jaar oud to hy daar begin werk het. Op verkiesingsdag, 14 April 2004 was hy afdiens. Hy het al die plaaswerkers met die bakkie na die stemlokaal geneem om te gaan stem. Hy ken vir beskuldigde 3. Hy getuig dat beskuldigde 3 ongeveer 3 jaar voor die voorval op die plaas werksaam was by die melkery. Volgens hom het beskuldigde 3 op `n stadium op die oorledene se perseel gewoon. Hy het van die voorval gehoor later die middag. Die oorledene se vrou het na die voorval na haar kinders vertrek. Gevolglik het hy geen werk of woonplek nie.
Jan Setlodi, ook bekend as Oupa Nyana het getuig dat hy woonagtig is op perseel VH 10 Jan Kempdorp. Op 14 April 2004 was hy werksaam by die oorledene se perseel besig om landery met sy trekker te bewerk. Hy het nie ver van die huis af gewerk nie. Ongeveer 3 uur die middag was hy klaargewerk en is toe terug na sy woning te perseel VH 10. Oppad is hy voorgekeer deur beskuldigde 1, wie hom meegedeel het dat hy besig is om sy fiets by die draad reg te maak. Hy was by die winkel waar hy dan materiaal sou gekoop het vir die fiets. Na die gesprek is hy is toe daar weg met sy trekker.
Inspekteur Riaan Wilken getuig dat hy op 14 April 2004 dienste verrig het by die stemlokaal te Jan Kempdorp. Hy is verbonde aan die Openbare Orde en Polisiëring eenheid. Hy is ontbied na die oorledene se woning. Hy en sy kollega Kaptein Ras is afgelaai in die bos waar hulle spore van die verdagtes gesoek het. Hulle het wel `n spoor gevolg waar hulle klerasie en `n breekyster gevind hat. Hulle het egter nie op daardie stadium die items opgetel nie aangesien hul prioriteit was om die verdagtes op te spoor. Hulle het uiteindelik afgekom op beskuldigde 1 en Dawid Lesenyo en beslag gelê op `n boks bevattende haalgeweer rondtes. Hulle het die beskuldigdes gearresteer en op verskeie kledingstukke beslag gelê soos gesien op fotos 25, 27, 30 en 31 van bewysstuk âGâ.
Kaptein Itumeleng Morris Phokeng het getuig dat beskuldigde 5 sekere uitwysings vrywilliglik aan hom gemaak het, nadat hy gearresteer was. Beskuldigde 5 het die vuurwapen in die bos versteek en aan hom gaan wys waar hy dit versteek het na die skietvoorval. Hy het toe beslag gelê op die vuurwapen.
Die ondersoekbeampte Inspekteur Johannes Nortje het getuig dat hy op 15 April 2004 vir beskuldigdes 2, 3, 4, 5 en Kenneth Mokgobo te Ganspan gearresteer het. Op 16 April 2004 het Kenneth Mokgobo `n geweersak aan hom uitgewys waarop hy toe beslag gelê het. Hy het ook beslag gelê op `n groen sweetpakbroek van beskuldigde 2 by sy woning. Daar was besluit na oorlegpleging met die Direkteur van Openbare Vervolging om die saak teen Kenneth Mokgobo en Dawid Lesenyo terug te trek en hulle as Staatsgetuies te gebruik. Hy het die verklarings van Kenneth Mokgobo, Dawid Lesenyo en Sylvia Louw geneem. Die fotos wat ingehandig is as bewysstuk âGâ is geneem en opgestel deur Inspekteur Koller nadat Kenneth Mokgobo en Dawid Lesenyo sekere punte van die misdaadtoneel uitgewys het. Dit het die getuienis van die Staat afgesluit.
Beskuldigdes 1, 2, 4 en 5 het verkies om nie te getuig nie en hul saak is namens die verdediging gesluit. Slegs beskuldigde 3 het in sy verdediging getuig. Mr Monnapule Hendrik Dithole het getuig dat hy op 15 April 2004 gearresteer is deur die polisie. Op die stadium was hy werksaam by Anmar waar hy R 150,00 per week verdien het. Hy en beskuldigde 1 het die dag voor die voorval oor werk gepraat. Beskuldigde 1 het hom meegedeel dat Jan Setlodi, ook bekend as Oupa Nyana hom meegedeel het dat sy werkgewer Mr Pretorius, werkers soek. Hy ken die oorledene aangesien hy al voorheen daar gewerk het. Op 13 April 2004 is hy ongeveer 11 uur die oggend na beskuldigde 2 se woning waar hy vir beskuldigde 2, beskuldigde 4 en Sylvia Louw daar aangetref het. Beskuldigde 1, Kenneth Mokgobo, Dawid Lesenyo en beskuldigde 5 het later daar opgedaag. Hy het weer hul vroeër gesprek oor die werk met beskuldigde1 voortgesit en voorgestel dat hulle die inligting moet opvolg.
Teen ongeveer agt uur die aand is hulle na die oorledene se woning. Toe hulle daar kom was die ligte aan en die honde het geblaf. Hulle is toe terug in die bosse waar hulle oornag het. Hy is die volgende oggend eerste wakker. Beskuldigde 1 het hom meegedeel dat hulle nie gekom het vir werk nie, maar wel vir huisbraak. Hy het op `n stadium terwyl hulle in die bos was opgemerk dat beskuldigde 1 `n vuurwapen hanteer. Hy het ook `n breekyster gesien. Hy het gesê indien dit die geval is, gaan hy nie deel neem nie en het hy die toneel verlaat en huistoe geloop. Hy was nie teenwoordig toe die oorledene geskiet was nie en hy ontken enige deelname aan enige misdaad.
Die Staat het versoek dat die hof al die beskuldigdes skuldig bevind aan aanklag 1, asook op aanklag 2 te wete moord met voorbedagde rade. Verder versoek die Staat dat beskuldigde 1 aan aanklagtes 3 en 4 skuldig bevind word, ooreenkomstig sy pleit, en beskuldigde 5 op aanklag 3. Die verdediging namens beskuldigdes 1, 2 en 5 het versoek dat die beskuldigdes skuldig bevind word ooreenkomstig hul pleite.
Die volgende feite is gemenesaak ten opsigte van Beskuldigdes 1, 2 en 5:
Almal erken dat hulle na die oorledene se woning was op 14 April 2004 met die doel om die oorledene te beroof van geld;
Dat hulle die perseel betree het en die veiligheidsdeur oopgebreek het;
Dat beskuldigde 1 met die vuurwapen die woning betree het en daarna die oorledene geskiet het;
Dat beskuldigdes 2 en 5 hulself met die optrede van beskuldigde 1 vereenselwig het;
Dat almal vanaf die toneel weggehardloop het nadat die skoot afgevuur is;
Beskuldigde 1 erken verder dat hy wederregtelik en onwettiglik in besit was van die genoemde vuurwapen en ammunisie was sonder dat hy in besit van `n geldige lisensie daarvoor was.
Wat hierdie beskuldigdes betref is die geskilpunte dus as volg:
Het die Staat al die elemente van aanklag 1 bewys.
Was beskuldigdes deel van `n sameswering waartydens die moord op die oorledene beplan was.
Is beskuldigde 5 skuldig aan aanklagte 3 na aanleiding van die feit dat hy wel die vuurwapen sal hanteer en versteek het.
[22] Beskuldigdes 3 en 4 ontken al die bewerings teen hulle. Dit is egter gemenesaak dat hulle geen aandadigheid het ten aansien van aanklagtes 3 en 4 nie. In hul geval moet dus beslis word of die Staat hul skuld bo redelike twyfel bewys het ten opsigte van aanklagtes 1 en 2, en of hulle inderdaad betrokke was by die beplanning van die moord op die oorledene.
Die Staat steun hoofsaaklik op die getuienis van twee artikel 204 getuies naamlik Kenneth Mokgobo en Dawid Lesenyo. Beide is medebeskuldigdes in die pleging van die misdrywe en hul getuienis moet met versigtigheid beoordeel word. (Sien: S v Hlapezula and Others 1965 (4) SA 439 (A) op 440D-E; R v Ncanana 1948 (4) SA 399 (A) op 405; S v Van Vreden 1969(2) SA 524 (N) op 531G -532F; S v Bester 1990 (2) SASV 325 (A) op 328D-E).
Die Staat en die verdediging is dit eens dat die twee getuies mekaar oor verskeie aspekte weerspeek het en selfs afgewyk het van hul verklarings. Tydens kruisondervraging is beide getuies se verklarings aan hulle uitgewys waar hulle daarvan afgewyk het. Die verklarings is ingehandig as bewysstuk âJâ (Kenneth Mokgobo) en bewysstuk âKâ (Dawid Lesenyo)
Die getuienis voor die hof dui aan dat Inspekteur Nortje die verklarings in afrikaans neergeskryf het terwyl beide getuies tswana sprekend is. Inspekteur Nortje het glad nie gebruik gemaak van `n tolk nie. Hy het getuig dat hy die saak so spoedig moontlik wou afhandel en nie `n tolk beskikbaar gehad het nie. Dawid Lesenyo het getuig dat hy glad nie afrikaans verstaan nie. Inspekteur Nortje het gesê dat Dawid Lesenyo met hom kommunikeer het in gebroke afrikaans. Hierdie is glad nie die gewensde manier om `n verklaring van getuies te neem nie. Die probleem rondom getuieverklarings is welbekend. Daar moet gelet word na die konteks van die verklaring asook die aard van die weersprekings. Die manier waarop en die taal waarin die verklaring geneem is sal ook `n rol speel, sowel as die ouderdom en opvoedingspeil van die getuies.
Beide getuies was kort na hul arrestasie meegedeel dat hulle as getuies gebruik gaan word. Die sake is toe teen hulle teruggetrek. Kenneth Mokgobo se verklaring is geneem op 15 April 2004 en David Lesenyo op 20 April 2004. Die getuies was sonder twyfel nog geaffekteer deur die verloop van gebeure. Hulle was tydens die voorval beide slegs 17 jaar oud en het beperkte skolastiese opleiding gehad. Kenneth Mokgobo het tot standard 2 gevorder op skool terwyl Dawid Lesenyo `n analfabeet is. Daarteenoor was Kenneth Mokgobo in die onbenydenswaardige posisie waar hy moes getuig teen sy eie broer. Die hof moet dus teen hierdie agtergrond hul verklarings beoordeel.
Die benadering van ons howe was nog altyd dat daar nie van `n getuie verwag word om in sy getuieverklaring presies dieselfde weergawe te verskaf as wat hy in die ope hof gaan getuig nie. (Sien: S v Bruiners en `n Ander 1998(2) SASV 432 SE op 439e-f). Verder verwag ons howe nie dat twee of meer getuies presies dieselfde getuienis aflê met betrekking tot dieselfde voorval nie. (Sien ook: Bruiners (supra) op 439g â 438a en S v Nyembe 1982(1) SA 835 (A) op 842F-G). Die feit dat `n getuie van sy getuieverklaring afwyk beteken ook nie dat sy getuienis verwerp behoort te word nie. In S v Mkohle 1990(1) SASV 95 (A) op 98D-G is die volgende gesê:
ïgContradictions per se do not lead to the rejection of a witnessâ evidence. As Nicholas J, as he then was, observed in S v Oosthuizen 1982(3) SA 571 (T) at 576B-C, they may simply be indicative of an error. â
In S v Francis 1991 (1) SASV 198 (A) op 205F is by monde van Smalberg AR herinner dat die toets by die oorweging van die getuienis van `n medepligtige is of die hof na behoorlike oorweging van die medepligtige se getuienis met die versigtigheid wat die reg verlang, bo alle redelike twyfel oortuig is dat die verhaal wat die medepligtige vertel wat essensie betref waar is. (Sien ook: R v Gumede 1949 (3) SA 749 (A) op 756).
Die gepaste benadering ten opsigte van die getuienis in hierdie geval is uiteengesit in S v Singh 1975(1) SA 227 (N) op 228G-H waar die volgende gesê is:
ïgThe proper approach in a case such as this is for the court to apply its mind not only to the merits and the demerits of State and the defence witnesses, but also to the probabilities of the case.â
[30] In S v Trainor 2003 (1) SASV 35 (SCA) te 41 paragraaf 9 sê Navsa AR die volgende:
ïgA conspectus of all the evidence is required. Evidence that is reliable should be weighed alongside such evidence as may be found to be false. Independently verifiable evidence, if any, should be weighed to see if it supports any of the evidence tendered. In considering whether evidence is reliable, the quality of that evidence must of necessity be evaluated, as must corroborative evidence, if any. Evidence, of course, must be evaluated against the onus on any particular issue or in respect of the case in its entirety. The compartmentalised and fragmented approach of the magistrate is illogical and wrong.â (Sien ook: S v Sithole 1999(1) SASV 585 (W) op 590F- 591B).
Hierdie benadering is met goedkeuring in S v Mbuli 2003(1) SASV 97 deur Nugent WnAR gevolg op 110d-e:
ïgDoubts about one aspect of the evidence led in a trial may arise when that aspect is viewed in isolation. Those doubts may be set at rest when it is evaluated again together with all the other available evidence. That is not to say that a broad and indulgent approach is appropriate when evaluating evidence. Far from it. There is no substitute for a detailed and critical examination of each and every component in a body of evidence. But, once that has been done, it is necessary to step back a pace and consider the mosaic as a whole. If that is not done, one may fail to see the wood for the trees.' â
Daar moet dus aan die hand genoemde gesag na die getuienis in hierdie saak gekyk word. Beskuldigde 3 het getuig dat hy geensins deelgeneem het aan misdaad nie. Hy getuig dat hy wel werksaam was tydens die voorval, maar in gesprek getree het met beskuldigde 1 oor werk. Dit het dan gelei dat hy saam met die groep na die oorledene se plaas toe is om navraag te doen. Indien hy wel werksaam was soos hy getuig het, maak dit glad nie sin dat hy saam na die oorledene se woning is met die doel om werk te soek nie.
Volgens Kenneth Mokgobo en Dawid Lesenyo is hy die persoon wie met die roof voorstel vorendag gekom het aangesien hy wel voorheen werksaam was op die oorledene se plaas en `n mate van persoonlike kennis dra van die oorledene. Beskuldigde 3 getuig dat hy wel eers in die bos bewus geword het van die vuurwapen en breekyster. Hy skep die indruk dat hy homself onmiddelik vanaf die ander gedistansieer het nadat hy besef het dat dit nie meer oor `n werksplan gaan nie, maar wel `n roofplan. Sy weergawe is egter dat hy nog steeds by die groep gebly het nadat beskuldigde 1 hom van hul werklike doel ingelig het. Volgens hom het hy ongeveer 7 ure later eers besluit om te loop, net voordat die ander beskuldigdes die perseel binnegegaan het.
Eerstens, is dit geheel en al onwaarskynlik dat persone in die nag gaan werk soek, en tweedens is dit hoogs onwaarskynlik dat `n persoon persoon hom eers distansieer van sy vriende 7 ure nadat dit tot sy kennis gekom het wat die werklike doel van hulle optrede was. Beskuldigde 3 getuig dat hy die toneel verlaat het nadat beskuldigde 1 met Oupa Nyana in gesprek getree het. Hy kon egter nie `n verduideliking gee waarom hy toè besluit het om te loop nie. Hy het glad nie `n goeie indruk op die hof gemaak nie. Hy verwag dat die hof moet glo dat hy, met sy medebeskuldigdes by beskuldigde 2 se woning bymekaar gekom het, maar dat hy onder valse voorwendsels deur die ander mislei is om na die oorledene se plaas te gaan. Sy weergawe word verwerp as vals. Die hof bevind dus dat beskuldigde 3 wel deel was van die groep en ten alle bewus was van die plan om `n misdaad te gaan pleeg by die oorledene se woning.
Die vraag ontstaan dan of al die beskuldigdes wel beplan het om die oorledene te vermoor. Kenneth Mokgobo en Dawid Lesenyo getuig beide dat daar by beskuldigde 2 se woning beplan was om die oorledene te skiet en dan die geld by die oorledene se vrou te kry. Kenneth Mokgobo het egter uitgebrei op die plan en getuig dat die plan ingesluit het om na die rooftog ook die oorledene se vrou te skiet. Hulle sou dan die oorledene en sy vrou in `n voertuig laai en hul liggame in `n kanaal gooi. Kenneth Mokgobo was tydens kruisondervraging daarop gewys dat hy in sy verklaring aan die polisie gesê het dat hulle op die dag van die voorval weer `n
bespreking gehad het en dat daar besluit was om nie die oorledene en sy vrou dood te maak nie. Slegs indien hulle sou weier om die geld te gee, sou hulle doodgemaak word.
Waar die Staat op `n sameswering steun, moet die Staat bo redelike twyfel bewys dat daar `n vergadering of byeenkoms was waar daar `n besluit geneem is om die oorledene dood te maak, die terme van die besluit moet duidelik wees en dat die aangeklaagdes teenwoordig was op die vergadering en deel was van daardie besluitneming. Blote teenwoordigheid en stilswye op die vergadering is nie genoeg nie. (Sien: S v Nooroodien en Andere 1998(2) SASV 510 (NC) op 520B).
Dit is duidelik uit die getuienis van Kenneth Mokgobo en Dawid Lesenyo dat die gesprek by die vergadering meesal gewentel het rondom die feit dat hulle geld sou gaan haal by die oorledene se woning. Beskuldigde 1 het melding gemaak dat hy die oorledene sou skiet, terwyl al die ander oor hierdie aspek geswyg het.
Die feit dat hulle geswyg het beteken nie noodwendig dat die enigste afdeling is dat hulle almal saamgestem het nie. Die feit dat hulle nà die vergadering saam na die oorledene se woning is beteken nie dat hulle noodwendig ingestem het om die oorledene te dood nie. (Sien: S v Jama and Others 1989(3) SA 427 op 436A-C). Die twee artikel 204 getuies weerspreek mekaar oor presies wanneer die vergadering sou plaasgevind het asook die inhoud van die besprekings. Na oorweging van al die feite rondom die kwessie van beplanning om te dood is die hof nie tevrede dat daar aan al die vereistes vir `n sameswering voldoen is nie.
Beskuldigde 1, 2 en 5 het besluit om nie te getuig nie. Die hof sal aanvaar dat die besluit geneem is in die lig van die feit dat hulle skuldig gepleit het op sekere van die klagtes. Die posisie ten opsigte van beskuldigde 4 verskil egter. In sy geval het hy onskuldig gepleit en geen pleitverduideliking verskaf nie. Dit is egter die beskuldigde se konstitutionele reg om nie te getuig nie. Die vraag ontstaan of die getuienis gelewer teen die beskuldigde so oorweldigdend was dat daar van hom verwag kan word om wel sy weergawe aan die hof voor te lê. In S v Chabalala 2003(1) SASV 134 (SCA) het Heher WnAR op 142 in paragraaf 20 die volgende oor die aspek gesê:
ïg As was pointed out in S v Mthetwa 1972 (3) SA 766 (A) at 769D:
'Where . . . there is direct prima facie evidence implicating the accused in the commission of the offence, his failure to give evidence, whatever his reason may be for such failure, in general ipso facto tends to strengthen the State case, because there is nothing to gainsay it, and therefore less reason for doubting its credibility or reliability; see S v Nkombani and Another 1963 (4) SA 877 (A) at 893G and S v Snyman 1968 (2) SA 582 (A) at 588G.'
This dictum is entirely consistent with the constitutional position which was elucidated in Osman and Another v Attorney-General, Transvaal [1998] ZACC 14; 1998 (2) SACR 493 (CC) (1998 (4) SA 1224; 1998 (11) BCLR 1362) at para [22] and S v Boesak [2000] ZACC 25; 2001 (1) SACR 1 (CC) (2001 (1) SA 912; 2001 (1) BCLR 36) at para [24]. â
Ek is van mening dat die getuienis teen beskuldigde 4 van so `n aard is dat sy versuim om te getuig inderdaad verdoemend is. Die gevolg van beskuldigde 4 se stilswye is dat daar dus geen twyfel by die hof bestaan oor sy deelname aan hierdie misdaad nie. (Sien: S v Chabalala (supra) paragraaf 21).
Ek is dit eens met die Staat dat die grootste gedeelte van die getuienis van Kenneth Mokgobo en Dawid Lesenyo inderdaad gemenesaak was. Dit verskaf aan die hof genoegsame waarborg dat hul getuienis wel geloofwaardig is. Die aspekte waar hulle wel hulself weerspreek het of afgewyk het van hul getuienis doen nie afbreek aan die essensie van die werklike feite nie. Indien die hof die erkennings van beskuldigdes 1, 2 en 5 asook die getuienis van Kenneth Mokgobo en Dawid Lesenyo oorweeg verskaf dit aan die hof `n logiese en sinvolle uiteensetting van die gebeure wat aanleiding gegee het tot die pleging van die misdade.
Verder is daar stawende getuienis indien na die omringende omstandighede gekyk word soos die arrestasie van beskuldigde 1 en Dawid Lesenyo in die bos op die dag van die voorval, die klerasie en patrone wat gevind was asook die vuurwapen wat later deur beskuldigde 5 uitgewys is. Ter aansluiting hierby word dan ook gekyk na die swak gehalte van beskuldigde 3 se getuienis. Die hof is dus tevrede dat Kenneth Mokgobo en Dawid Lesenyo wel betroubare getuies was.
Wanneer die hof dus die onbetwiste feite en getuienis oorweeg is die geheelbeeld van die mosaic as volg:
Al die beskuldigdes het bymekaargekom by beskuldigde 2 se woning waar daar bespreek was om na die oorledene se plaas te gaan om geld te soek.
Almal het Dinsdag 13 April 2004 saam vertrek vanaf beskuldigde 2 se woning. Hulle was bewapen met `n geweer, breekyster en kapmes.
Toe hulle by die oorledene se perseel opdaag, Dinsdagaand het die honde geblaf. Die ligte van die woning was aangeskakel en die beskuldigdes is almal terug bos toe waar hulle oornag het.
Die volgende middag is hulle terug na die woning waar die veiligheidsdeur oopgebreek is. Beskuldigde 1 het die woning ingegaan met die vuurwapen.
Die oorledene, wie ongewapen was het ondersoek ingestel nadat hy `n geraas gehoor het. Beskuldigde 1 het toe die oorledene raakgeskiet.
Almal het vanaf die toneel weggevlug.
Die hof bevind dus dat die Staat bo redelike twyfel bewys het dat al die beskuldigdes na die oorledene se woning is met die gemeenskaplike opset om hom te beroof. In die uitvoering van hierdie doel is die oorledene deur beskuldigde 1 noodlottig gewond. Almal was bewus dat `n vuurwapen na die oorledene se woning geneem is. Hulle moes dus voorsien het dat tydens die uitvoering van die roof, iemand noodlottig gedood kon word, maar ten spyte van sodanige insig het beskuldigdes roekeloos voortgegaan met hul deelname, waarop die noodlottig gevolg toe inderdaad ingetree het. Almal het hulle vereenselwig met die handeling van beskuldigde 1 toe die noodlottige skoot afgevuur is. (Sien: S v Maelangwe 1999(1) SASV 133 (NC) op 135g-j en S v Majosi and Others 1991(2) SASV 532 (A) op 537c - 538e).
In S v Lungile and Another 1999(2) SASV 597 (SCA) op 602 in paragraaf 17 het Olivier AR die volgende gesê ten einde te bepaal of die beskuldigdes wel die subjektiewe insig tydens die uitvoering van hul gemeenskaplike doel gehad het:
ïgIn the present case, the crucial question therefore is whether the State proved beyond reasonable doubt that the first appellant in fact did foresee ('inderdaad voorsien het') that the death of a person could result from the armed robbery in which he participated. In this case, as in many others, the question whether an accused in fact foresaw a particular consequence of his acts can only be answered by way of deductive reasoning. Because such reasoning can be misleading, one must be cautious. Generally speaking, the fact that the first appellant had prior to the robbery made common cause with his co-robbers to execute the crime, well-knowing that at least two of them were armed, would set in motion a logical inferential process leading up to a finding that he did in fact foresee the possibility of a killing during the robbery and that he was reckless as regards that result. â
Wat die besit van die vuurwapen en ammunisie betref het slegs beskuldigde 1 en beskuldigde 5 die vuurwapen hanteer tydens die pleging van die misdryf. Die hof is tevrede na aanleiding van beskuldigde 1 se pleit van skuldig dat hy wel skuldig is op aanklagtes 3 en 4. Beskuldigde 5 het sonder twyfel op `n stadium die vuurwapen in sy besit gehad. Hy het na die skietvoorval die wapen in sy besit geneem en gaan versteek. Die hof is tevrede dat hy wel oor die nodige animus beskik het om die vuurwapen te besit. (Sien: S v Nkosi 1998(1) SASV 284 at 286b-f).
Wat die twee artikel 204 getuies betref het die hof reeds bevind dat hulle op `n bevredigende wyse getuig het. Hulle was beide gewaarsku ingevolge artikel 204 van die Strafproseswet 51 van 1977. Die hof is dus tevrede dat Kenneth Mokgobo en Dawid Lesenyo aan al die vereistes van die bepalings van artikel 204 voldoen het, en dat hulle wel eerlik en openhartig hul getuienis afgelê het en gevolglik word beide gevrywaar teen vervolging ingevolge artikel 204(2)(a) van die Strafproseswet.
Gevolglik is die hof se bevindinge as volg:
Beskuldigde 1 word skuldig bevind aan:
Aanklagte 1 - Huisbraak met die opset om te roof met verswarende omstandighede;
Aanklagte 2 - Moord;
Aanklagte 3 - Besit van `n ongelisensieerde vuurwapen;
Aanklagte 4 - Besit van ammunisie.
Beskuldigde 2 word skuldig bevind aan:
Aanklagte 1 - Huisbraak met die opset om te roof met verswarende omstandighede.
Aanklagte 2 - Moord.
Aanklagte 3 - Onskuldig
Aanklagte 4 - Onskuldig
Beskuldigde 3 word skuldig bevind aan:
Aanklagte 2 - Moord.
Aanklagte 3 - Onskuldig
Aanklagte 4 - Onskuldig
Beskuldigde 4 word skuldig bevind aan:
Beskuldigde 5 word skuldig bevind aan:
Aanklagte 1 - Huisbraak met die opset om te roof met verswarende omstandighede.
Aanklagte 2 - Moord.
Aanklagte 3 - Besit van `n ongelisensieerde
Vuurwapen.
______________
P L GOLIATH
Waarnemende Regter
(NOORD KAAPSE AFDELING)
Namens die Staat: Adv. J. J Cloete (Openbare Vervolging)
Namens Beskuldigdes 1 & 2 Adv. P.J Cloete (Regshulp Raad)
Namens Beskuldigde 3 Adv. M. Muhlohlonyi (Regshulp Raad)
Namens Beskuldigde 4 Mr. L. Jooste (Regshulp Raad)
Namens Beskuldigde 5 Adv. B. Segone (Regshulp Raad)