WJ Fourie Beleggings BK v Kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (11261) [2005] ZAFSHC 90 (11 August 2005)
The court found that the settlement amount received by the appellant was a surrogatum for future profits lost due to the premature termination of the accommodation contract. The evidence did not support the contention that the payment was for the surrender of a capital asset or for damage to the business structure....
Source-derived case information.
- Citation
- [2005] ZAFSHC 90
- Parties
- Appellant: WJ Fourie Beleggings BK; Respondent: Kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens
- Court
- Free State High Court, Bloemfontein
- Jurisdiction
- South Africa
- Case Number
- 11261
- Procedural Posture
- Civil Appeal / Appeal From Tax Assessment
- Outcome
- The appeal is dismissed.
- Judges
- Kruger R, A Koch, D Smit
- Legal Topics
- Income Vs Capital Receipt, Contractual Damages, Settlement Agreement, Gross Income Definition
Source-derived case record
Summary, issues, holding and outcome
More case intelligence is available
Unlock the full research layer for this judgment.
Parties
WJ Fourie Beleggings BK
Appellant
Kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens
Respondent
Procedural Posture
Civil Appeal / Appeal From Tax Assessment
Legal Issues
- 1 Whether the settlement amount of R1,292,760.00 received by the appellant from Naschem constitutes a receipt of a capital nature or income for the purposes of the Income Tax Act.
- 2 Whether the payment was compensation for loss of future profits (income) or for the surrender of a capital asset.
Ratio Decidendi
The court found that the settlement amount received by the appellant was a surrogatum for future profits lost due to the premature termination of the accommodation contract. The evidence did not support the contention that the payment was for the surrender of a capital asset or for damage to the business structure. The contractual relationship was not of such a nature that its termination destroyed or materially crippled the appellant's profit-making apparatus. The payment was therefore of an income nature and properly included in the appellant's taxable income for the relevant year. The appeal was dismissed.
Court Disposition
The appeal is dismissed.
Orders
- The appeal is dismissed.
- No order as to costs.
Full Case Text
Judgment text and source record
85 paragraphs
IN DIE BELASTINGHOF, BLOEMFONTEIN
Saak Nr: 11261
WJ FOURIE BELEGGINGS BK Appellant
en
DIE KOMMISSARIS VAN DIE
SUID-AFRIKAANSE INKOMSTEDIENS Respondent
_____________________________________________________
UITSPRAAK: KRUGER, R en ASSESSORE
AANGEHOOR OP: 27 JULIE 2005
___________________________________________________
GELEWER OP: 11 AUGUSTUS 2005
AGTERGROND
[1] Die appellant is die eienaar van die Elgro Hotel in Potchefstroom.
[2] Op 4 April 2001 het Naschem, ân afdeling van Denel (Edms) Bpk, ân bespreking by die appellant gemaak vir die akkommodasie van en voorsiening van drie maaltye per dag aan sekere âstudenteâ van Naschem vanaf 1 April 2001 vir wisselende tydperke. Agt-en-dertig studente sou bly tot 31 Mei 2003, twaalf studente sou bly tot 6 Mei 2001, sewentien sou bly tot 31 Augustus 2001, agtien sou bly tot 31 Augustus 2001 en vyf offisiere sou bly tot 31 Augustus 2001. Die totale waarde van die kontrak was R8 791 913,70. Die studente wat in die hotel tuisgegaan het was afkomstig uit die Emirate. Om ân rede wat Naschem nie weet nie het hulle kort na die gebeure van 11 September 2001 almal uitgetrek. Die studente was nie bereid om terug te gaan na die hotel nie. Die appellant het hierdie optrede as ân kansellasie en kontrakbreuk beskou. Die partye het egter besluit om die geskil buite die hof te skik en op 6 Desember 2001 het hulle ooreengekom dat Naschem ân bedrag van R1 292 760,00 aan appellant sou betaal as volle en finale vereffening van die eise wat appellant teen Naschem sou hê.
[3] Die appellant het ân opgawe van inkomste vergesel van finansiële state vir die jaar van aanslag geëindig 28 Februarie 2002 ingedien waarin hy die ontvangs van die voornoemde bedrag aangedui het as ân âabnormale itemâ en van ân kapitale aard.
[4] Die Kommissaris was egter van mening dat die bedrag van ân inkomste-aard was en het dit by die appellant se belasbare inkomste vir daardie jaar ingesluit en die appellant op dié basis vir normale belasting aangeslaan.
[5] Teen daardie aanslag het die appellant beswaar gemaak, wat deur die Kommissaris verwerp is, en uiteindelik na hierdie Hof op appèl gebring is.
DIE GESKILPUNT
[6] Die geskil wentel om die aard van die bedrag van R1 292 760,00 wat deur Naschem aan appellant betaal is, en wel die vraag of dié bedrag ân ontvangste of toevalling van ân kapitale aard was, ooreenkomstig die betekenis van dié uitdrukking in die woordomskrywing van âbruto inkomsteâ in artikel 1 van die Inkomstebelastingwet, Nr. 58 van 1962, al dan nie.
DIE GETUIENIS
[7] Namens appellant het twee getuies getuig, Mev. Gerber en Mnr. Fourie. Mev. Gerber was gedurende Desember 2001 ân regsadviseur van Naschem wat ân divisie van Denel was. Sy was ân lid van die bestuurskomitee van Naschem. Sy dra kennis van die ooreenkoms wat op 6 Desember 2001 aangegaan is. Sy was betrokke by die opstel daarvan en as getuie. Haar getuienis was dat Naschem besef het dat hulle die aangeleentheid moet skik om uit die hof uit te bly want Mnr. Fourie van die Elgro Hotel het hulle baie gehelp met akkommodasie en hulle wou nie toekomstige samewerking verongeluk nie. Aanvanklik het Naschem se finansiële bestuur ân bedrag uitgewerk van R600 000,00 wat aangebied is aan Fourie. Dit was nie vir hom aanvaarbaar nie en uiteindelik is op ân bedrag van nagenoeg R1.2 miljoen soos in die ooreenkoms vervat, ooreengekom. Sy weet nie hoe dit saamgestel is nie. In die ooreenkoms bepaal klousule 2, as volg:
âAfstanddoening van Regte:
As teenprestasie vir die betaling van bogenoemde skikkingsbedrag, onderneem ELGRO HOTEL om:
2.1 alle regte wat hy mag hê op skadevergoeding te abandoneer, en
2.2 enige hangende- of beoogde hofaksies teen NASCHEM te laat vaar.â
Mev. Gerber het ook getuig dat die hotel op daardie stadium ongeveer vir twee derdes beset was deur persone afkomstig van Arabiese state en dra sy ook kennis daarvan dat diegene wat wel daar gebly het ernstige skade berokken het aan die hotel. In kruisondervraging is die vraag aan haar gestel: âHoe abandoneer ân mens ân reg op skadevergoeding as jy dit uitoefen?â Waarop sy geantwoord het dat die bedoeling van die hele dokument was om ân skikking te bewerkstellig. Soos sy dit gestel het, âdit was om hom van ons nekke af te kryâ. Mev. Gerber het getuig dat haar opdrag was om die bedrag wat Naschem sou betaal so laag as moontlik te hou. Sy getuig ook dat Naschem nie homself wou blootstel aan ân hofsaak nie. Sy was bewus daarvan dat Mnr. Fourie ân eis vir nagenoeg R4 miljoen sou kon instel maar hulle wou sy goedgesindheid behou.
[8] Die volgende getuie vir appellant was Mnr. Willem Jacobus Fourie. Hy is die enigste lid van die appellant beslote korporasie wat in die hotelbedryf is en die Elgro Hotel, Potchefstroom bedryf. Hy sê dat daar verskeie voorwaardes was voordat hierdie kontrak vir die akkommodasie van die studente gesluit kon word, naamlik dat daar 1 persoon per dubbelkamer moes wees, die matte moes vervang word, yskaste moes ingebring word, daar moes spesiale eenhede wees waar gebed uitgeoefen kon word, daar was ekstra waterbekers nodig, die kamers is opgegradeer, hulle het ân aparte eetkamer gehad, hy moes spesiale personeel aanstel en spesiale spyseniers verkry wat hy gekry het van Pakistan en van die Libanon. (Dit is egter opvallend dat hierdie uitgawe nie blyk uit die finansiële state nie.) Daar was ân aparte kombuis waar net hulle voedsel voorberei is en waar ander voedsel nie voorberei kon word nie. Hy het daardie personeel betaal en ook hulle vliegkaartjies betaal. Op daardie stadium was die Elgro Hotel die enigste hotel op Potchefstroom met spesiale toerusting en wat op daardie stadium redelike fasiliteite gehad het. Hulle kon 25 konferensies per week aanbied want daar was nagenoeg 9 konferensie lokale wat gebruik kon word. Hulle het ook baie sportgroepe ontvang. Sewentig persent van die hotel was op daardie stadium geokkupeer deur studente van Naschem. Omdat hulle al die dubbelkamers gebruik het was daar slegs enkelkamers oor vir ander gebruik. Hy het ook getuig dat na die gebeure van 11 September 2001 het die studente, om ân rede wat nie vir hom verduidelik is nie, uit die hotel uitgetrek. Dit het oornag gebeur. Hy was geskok, daar was R4,7 miljoen uitstaande op die kontrak. Hy sê die kamers was baie verniel. Die studente het pype gerook in die kamers, die matte was gebrand, die matrasse het gate in gehad. Hy sê die kamers was verwoes. Hulle moes begin herstel. Hy het geraam dat die herstelkoste nagenoeg R1,2 miljoen was. Die rede waarom hy die aangeleentheid geskik het was omdat hy so gou moontlik geld wou inkry om weer met sy besigheid te kan voortgaan. Hy het op daardie stadium oorweeg om die kontrak te verkoop ten einde inkomste in te kry.
[9] Onder kruisondervraging het Fourie getuig dat die studente gekom en gaan het. Daar was tot 78 studente op ân keer, maar hy het nie soveel studente vir twee jaar elke dag gehad nie. Vir die hele tydperk sou daar slegs 38 studente bly en offisiere het van tyd tot tyd daar kom inwoon. Hy is gevra of hy nie die skade wat die studente aan die kamers berokken het opgemerk het voordat hulle uitgetrek het waarop hy positief geantwoord het maar gesê het dat as die kontrak sy hele loop geneem het en tot die einde gegaan het sou die hotel daardie kostes kon absorbeer. Betreffende die skade wat die studente berokken het, het Mnr. Fourie gesê dat hulle stofies ingebring het, dekens gebrand het, meubels gebrand het, matrasse het gate ingehad, en die matte was totaal verwoes. Toe die studente ingetrek het aan die einde 1999 was veranderings aangebring.
[10] Dit is aan Mnr. Fourie gestel dat die syfers wat hy aan die Ontvanger van Inkomste getoon het in sy belastingopgawes, nie die prentjie bewys wat hy skets nie; nòg die uitgawes, nòg die inkomste. Ter stawing hiervan het Mnr. Stevens bewysstuk âAâ ingehandig wat die omset, uitgawes en herstelkoste van die appellant toon vir die jare vanaf 1998 tot 2004. Uit daardie state sien ân mens ân redelike konstante prentjie met nie groot wisselings nie. Veral merk ân mens nie in die tydperk van die 2002 belastingjaar, waarin hierdie uitgawes vermeld sou moes word, abnormale hoë uitgawes nie. Trouens, as ân mens die uitgawes vergelyk van 2002 met dié van 2001 dan sien ân mens dat die uitgawes geëis vir die belastingjaar 2002, waarin die periode val waarin die studente gebly het, die herstelkoste die bedrag van R484 735,00 was, terwyl die voorafgaande jaar sân R436 267,00 was. Dus ân verskil van nagenoeg R50 000,00. Mnr. Stevens het aan Mnr. Fourie gestel dat al addisionele skade wat die studente berokken het die bedrag van R50 000,00 was waarmee Mnr. Fourie nie saamgestem het nie. Hy kon egter nie verduidelik waar die bedrag van R1,2 miljoen gespandeer is aan herstelkostes soos wat hy beweer het en gesê het dat dit oor ân tydperk gedoen is. Ook wat die inkomste betref toon die state nie die dramatiese val in inkomste soos wat Fourie getuig nie. Die inkomste vir die belastingjaar 2001 was R9 444 386,00 en vir die 2002 belastingjaar R8 060 933,00. Nie ân groot dramatiese val nie.
[11] Mnr. Fourie het getuig dat hy die skikkingsbedrag aanvaar het as gevolg van die druk wat hy gehad om die plek aan die gang te kry. In herondervraging het Mnr. Fourie verduidelik hoe die skikkingsbedrag saamgestel was. Hy sê dit was die bedrag van R1,1 miljoen plus BTW daarop plus ân bedrag van R34 000,00 professionele koste daarby. Die professionele koste was vir regskoste en die opstel van kontrakte. Hy getuig dat hy nie sou kon oorleef as hy nie die skikking aanvaar het nie. Omdat hierdie getuienis nuwe getuienis was wat in herondervraging vir die eerste keer opgeduik het, is verdere kruisondervraging toegelaat. In verdere kruisondervraging is aan hom gestel dat hy nie die verklaring wil gee van hoe die skikkingsbedrag saamgestel is omdat dit sy saak skade sal doen. Hierop antwoord Mnr. Fourie dat die geld gebruik is vir herstelkoste om die besigheid se deure oop te hou en omdat hy nie seker weet hoe die bedrag van R1,1 miljoen saamgestel is nie. Op ân vraag van assessor, Mnr. Koch of ander besoekers nie vir addisionele inkomste gesorg het nie het Fourie nie ân duidelike reguit antwoord verstrek nie. In vrae deur assessor, Mnr. Smit, is uitgewys dat uit die state blyk dat die hotel behoort aan Bultfontein Eiendomme Beleggings (Edms) Bpk. Daar was in die jaar ook slegs kapitale toevoegings van R29 683,00. Uit vrae van Mnr. Smit het geblyk dat Mnr. Fourie 2 lenings wat eintlik persoonlike lenings was, afbetaal het in die bedrag van nagenoeg R500 000,00 elk, gedurende die belastingjaar. In dié verband is hy verwys na bladsy 18 van die state waar die nie-bedryfslaste in 2001 as R1 377 251,00 getoon word terwyl dit in 2002 R872 156,00 was. Die bedryfslaste was in 2001, R1 674 555,00 en in 2002 R1 186 103,00. Daar was ân vermindering van nagenoeg R1 miljoen op lenings wat afbetaal is in hierdie belastingjaar waarin hierdie groot verlies gely is. Geen verduideliking is hiervoor verstrek nie. Die bedrag huur betaal vir die jaar 2002 was aansienlik minder as vir die jaar 2001. In die jaar 2001 word die huurbedrag aangetoon as R523 471,00 terwyl dit vir die jaar 2002 R351 418,00 is wat aansienlik minder is. Dit is moeilik om hierdie feite te versoen met die appellant se bewering dat groot uitgawes aangegaan is om die studente te akkomodeer. Fourie kon nie verduidelik waarom hierdie bedrag minder is nie en geen getuienis is aangebied om dit te probeer verduidelik nie. Dit het die getuienis afgesluit.
BEOORDELING VAN GETUIENIS
[12] Wat Mev. Gerber betref is sy ân gekwalifiseerde prokureur wat betrokke was by die skikkingsonderhandelinge. Sy weet nie hoe die bedrag saamgestel is nie. Sy het eenvoudig die bedrag so laag moontlik probeer hou. Haar getuienis dat die bedrag betaal is ten einde nie hof toe te gaan nie is ân regskonklusie en die hof moet sy eie gevolgtrekking maak oor waarom die skikking aangegaan is. ân Klousule soos klousule 2 is ân standaard klousule wat in skikkingsooreenkomste aangetref word. Haar pogings om te probeer verduidelik dat dit die hele doel van die kontrak was kom neer op ân oorneem van die funksie van die hof.
[13] Wat Mnr. Fourie betref was dit opvallend dat hy ân baie vae kennis het van die syfers wat genoem is, en wat die kernsyfer betref waarop inderdaad geskik was, het hy aanvanklik nie geweet hoe hierdie bedrag saamgestel is nie. Dit is egter uit die geheel van sy getuienis duidelik dat hy hierdie bedrag aanvaar het ten einde met sy besigheid te kan voortgaan met ander woorde as die inkomste wat hy verdien het. Daar was nie ân kwessie van enige kapitaalwerking wat daarmee gedoen is nie. Dit is duidelik dat daardie bedrag ook nie in die state blyk nie. Mnr. Fourie se antwoorde op verskeie vrae was ontwykend en sy getuienis was nie besonder hulpvaardig nie.
BETOOG OP DIE FEITE NAMENS DIE REGSVERTEENWOORDIGERS
[14] Mnr. Lewis wat namens die appellant verskyn het, het soos volg betoog:
(i) By die aanvaarding van die bepalings van die skikkingsvoorwaarde, het appellant onderneem om nie skadevergoeding van Naschem te verhaal deur middel van ân hofaksie nie, voortspruitend uit Naschem se repudiasie van die ooreenkoms.
(ii) So ân eis om skadevergoeding verteenwoordig een van die regte wat appellant besit in die beoefening van sy bedryf as hotelier.
(iii) So ân eis sou, onder andere, appellant se verlies aan toekomstige inkomste ingesluit het.
(iv) Die betaling verteenwoordig die teenprestasie vir appellant se aanvaarding van die handelstremmende ooreenkoms, en is dus die ontvangs van ân nie-belasbare, kapitale bedrag.
Mnr. Lewis vra dus dat die appèl toegestaan word omdat die aanslag verkeerd was en die toevalling nie van inkomste aard nie.
[15] Die submissies van Mnr. Stevens, wat namens die respondent verskyn het, is soos volg:
(i) Die ooreenkoms van 6 Desember 2001 meld dat Naschem se kontrakbreuk âernstige finansiële verliesâ vir die appellant sou veroorsaak en dat die appellant daarom ân âregsgeldige eis vir skadevergoeding vir kontrakbreukâ teen Naschem sou hê. In nota 9 tot die finansiële state vir 2002 word onder die opskrif âAbnormale Itemâ weereens die volgende gesê: âSkadevergoeding ontvang as gevolg van ernstige finansiële verlies veroorsaak deur kontrakbreukâ. Geen melding word gemaak van enige skade aan die hotel nie.
(ii) Die enigste logiese en afleibare gedokumenteerde verlies wat die appellant sou kon ly, sou ân korttermyn inkomste-verlies wees as gevolg van die feit dat reeds bespreekte akkommodasie nie meer benut sou kon word deur Naschem nie. Dit word aanvaar dat ân oornagse verlies van ân groot groep hotelgaste ân groot inkomsteverlies vir enige hotel sou wees, wat potensiële kliënte weggewys het omdat sy kamers beset sou wees deur (Naschem-) studente en âpersoneel.
(iii) Die bedrag skadevergoeding blyk nie te wees vir moontlike fisiese beskadiging aan die besigheidstruktuur van die appellant nie.
Volgens die inkomste- en uitgawestaat van die appellant op 28 Februarie 2002 het die appellant gedurende die jaar onder appèl R484 735,00 aan âReparasiesâ spandeer en gedurende 2001, R436 267,00. Dit blyk dat herstelkostes van R300 000,00 â R400 000,00 per jaar ân gereelde jaarlikse uitgawe van die appellant was.
(iv) Wat wel uit die staat blyk, is dat die appellant gedurende 2002 ân omset van R8 060 933 gehad het teenoor R9 441 386 in 2001. Onder âInkomstebelastingâ in nota 10 op dieselfde bladsy word vermeld dat geen voorsiening vir inkomstebelasting gemaak word nie omdat âdie beslote korporasie ân berekende aangeslane verlies het van R108 305â.
(v) Dit blyk verder dat die appellant nie noodwendig ekstra personeel gedurende 2002 aangestel het nie. Die salarisse en lone as uitgawe vir dié jaar was R2 285 657 teenoor R2 322 619 vir 2001. Netso was die uitgawe vir âwasgoed en linneâ in 2002 R162 914 teenoor R172 718 vir 2001.
(vi) Die voormelde syfers toon aan dat die appellant ân inkomsteverlies gely het en daarvoor vergoed is deur Naschem.
(vii) In parr 2.4 en 2.5 van die brief van 30 September 2003 word die volgende gestel:
â2.4 Uit hoofde van die skikkingsooreenkoms het W J Fourie afstand gedoen van sy reg om skadevergoeding te verhaal. Hierdie reg vorm deel van WJ Fourie se inkomste-produserende bates;
2.5 Die bedrag wat hy ontvang het as teenprestasie vir hierdie afstanddoening, is dus ân ontvangs van ân nie-belasbare, kapitale aardâ.
(viii) Mnr. Stevens sê hierdie stellings is geforseerd. Die appellant het wel ân reg op skadevergoeding gehad wat hy inderdaad uitgeoefen het toe kontrakbreuk gepleeg is deur Naschem. Daar is geen aanduiding dat die appellant van enige âregâ afstand gedoen het nie; inteendeel, hy het juis sy regte uitgeoefen. Dit is uiters geforseerd om te redeneer dat indien ân mens jou reg op remedies tot jou beskikking uitoefen, jy van ân âkapitale bateâ afstand doen.
DIE TOEPASLIKE REGSBEGINSELS
(a) Appellant se regs-submissies
[16] Met verwysing na die toepaslike regsbeginsels sê Mnr. Lewis dat daar geen vaste riglyne bestaan om te bepaal of bovermelde bedrag van ân nie-belasbare, kapitale aard, is al dan nie. Elke saak moet op sy eie feite beoordeel word. - KBI v TRANSVAALSE SUIKERKORPORASIE BEPERK 1985 (2) SA 666(T); 47 SATC 34. Die ware aard van elke transaksie moet ondersoek word om te bepaal of die ontvangs daaraan verbonde, ân kapitale- of inkomste ontvangs is, al dan nie. - CIR v ILLOVO SUGAR ESTATES LIMITED 1951(1) SA 306 (N); 17 SATC 378 op 392.
(b) Respondent se regs-submissies
[17] Wat die regsargument van Mnr. Stevens betref, sê hy die vertrekpunt by die beantwoording van die aard van ân ontvangste of toevalling is die omskrywing van die woord âbruto inkomsteâ in artikel 1 van die Inkomstebelastingwet, No 58 van 1962, die tersaaklike gedeelte wat soos volg lui:
â(B)ruto inkomste, met betrekking tot ân jaar of tydperk van aanslag en in die geval van enige persoon (beteken) die totale bedrag, hetsy in kontant of andersins, ontvang deur of toegeval aan of ten gunste van so ân persoon gedurende bedoelde jaar of tydperk van aanslag uit ân bron in die Republiek..., met uitsluiting van ontvangste of toevallings van ân kapitale aard...â
[18] Dit is gemene saak dat die bedrag van R1 292 760 deur die appellant ontvang is gedurende die 2002 â belastingjaar. Die enigste oorblywende geskilpunt is of dit van âân kapitale aardâ was ooreenkomstig die betekenis van dié uitdrukking in die omskrywing van âbruto inkomsteâ hierbo verwys na, al dan nie.â
[19] Mnr. Stevens wys daarop dat die uitdrukking âvan kapitale aardâ nie in die Wet omskryf word nie en het dus nie ân universele betekenis wat in alle sake toegepas kan word nie. Wat seker is, is dat alle ontvangste of toevallings in een van twee kategorieë ressorteer: inkomste of kapitaal. Die vraag in welke van hierdie twee kategorieë ân ontvangste of toevalling tuishoort, moet beantwoord word na aanleiding van ân noukeurige ondersoek van al die feite van ân saak.
[20] Die aard van vergoeding vir kontrakbreuk het aanleiding gegee tot ân reeks beslissings in Suid-Afrika en oorsee waaruit riglyne getrek kan word.
[21] Die leidende Engelse saak in dié verband is dié van BURMAH STEAM SHIP CO LTD v IRC (1930) 15 TC 67, 1931 SC 156. In hierdie saak het herstellers wat ân skip van die appellant se vloot moes herstel, veel langer geneem om die herstelwerk te doen as wat die partye ooreengekom het. Die herstellers moes skadevergoeding betaal en die vraag voor die hof was na die aard van hierdie vergoeding in die appellant se hande. Die hof het beslis dat dit belasbare inkomste verteenwoordig het. Die volgende woorde van Lord Clyde het intussen klassieke status bereik en is ook in die Suid-Afrikaanse belastingreg as riglyn gevolg (1930) 16 TC te ble. 71-72):
âSuppose someone who chartered one of the Appellantâs vessels breached the charter and exposed himself to a claim of damages at the Appellantâs instance, there could, I imagine, be no doubt that the damages recovered would properly enter the Appellantâs profit and loss account for the year. The reason would be that the breach of the charter was an injury inflicted on the Appellantâs trading, making (so to speak) a hole in the Appellantâs profits, and the damages recovered could not therefore be reasonably or appropriately put by the Appellant â in accordance with the principles of sound commercial accounting â to any other purpose than to fill that hole.
[22] In BOURKEâs ESTATE vs CIR 1991(1) SA 661 (A) het die Appèlhof ân stap verder as die Hof in BURMAH STEAM SHIP CO gegaan en die volgende by die âvakuum â toetsâ gevoeg (met goedkeuring aangehaal uit BROOMBERG: TAX STRATEGY, 2e uitgawe (1983) te ble. 199-200):
âIt is necessary, in addition, to ascertain the true nature of that asset in the recipientâs hands. More particularly, was the asset, prior to its destruction of damage, an asset of a capital nature or was it floating capital? If it was floating capital, such as trading stock, standing crops, or consumable stores (like petrol, oil and so forth) the compensation will, obviously, be of a revenue nature, and will be subject to tax. In short, it is only where the payment received is to fill a hole in the capital assets of the taxpayer that the payment will escape the tax netâ (onderstreping aangebring).
TOEPASSING VAN REGSBEGINSELS
[23] Die appellant beklemtoon klousule 2 van die skikkingsooreenkoms. Hy sê dat uit hoofde van hierdie klousule hy afstand gedoen het van sy reg op skadevergoeding. Hierdie reg sê appellant vorm deel van sy inkomste produserende bate. Met verwysing na TAEUBER AND CORSSEN (PTY) LTD V SECRETARY FOR INLAND REVENUE 37 SATC 129 sê appellant dat die bedrag wat hy as teenprestasie vir sy afstanddoening ontvang het dus ân ontvangs van ân nie-belasbare kapitale aard was. Met inkomstebelastingsake is dit gevaarlik om weg te beweeg van die feite (CIR v GEORGE FOREST TIMBER CO LTD 1924 AD 516 op 523. Soos Hoexter AR dit stel in BOURKEâS ESTATE v COMMISSIONER OF INLAND REVENUE 1991 (1) SA 661 (AD) op 675 B-C:
âDicta wrested from a completely alien context are unhelpful and may be misleading.â
[24] Die appellant plaas die klem op klousule 2, die afkoop van verdere litigasie. Dit strook met die feite in CIR v HERSOV 1952(1) 485 (AD), naamlik dat Hersov die bedrag ontvang het ten opsigte van ân kapitale bate, naamlik deur afstand te doen van sy reg op ân permanente direkteurspos (te 494 F â 495 A). In die TAEUBER AND CORSSEN-saak (hierbo) is betaal vir ân handelsbeperking. Dit was beskou as kapitaal van aard.
[25] Mnr. Stevens sê dat die feite in die TAEUBER-saak verskil van die onderhawige saak. Hy sê dat die relevante sake hier is eerstens saak ITC 723: 17 SATC 496 (1951), ân saak van Waarnemende Regter Pollak waar hy ondermeer die volgende sê:
âIt seems clear that an amount received such as the present, by way of damages or by way of settlement of an action for damages, is income and not capital, if the transaction out of which the claim for damages arose is a transaction which, had it been completed, would have resulted in an income and not in a capital gain or loss as the case might beâ (onderstreping aangebring).
[26] Mnr. Stevens verwys ook na saak ITC 1279; 40 SATC 254 op 258 waar Coetzee R die volgende met goedkeuring aanhaal uit IRC v FLEMMING & CO (MACHINERY) LTD (1951) 33 TC 57 te 63:
âThe sum received by a commercial firm as compensation for the loss sustained by the cancellation of a trading contract or the premature termination of an agency agreement may in the recipientâs hands be regarded either as a capital receipt or as a trading receipt forming part of the trading profit. It may be difficult to formulate a general principle by reference to which in all cases the correct decision will be arrived at since in each case the question comes to be one of circumstance and degree. When the rights and advantages surrendered on cancellation are such as to destroy or materially to cripple the whole structure of the recipientâs profit-making apparatus, involving the serious dislocation of the normal commercial organization and resulting perhaps in the cutting down of the staff previously required, the recipient of the compensation may properly affirm that the compensation represents the price paid for the loss or sterilization of a capital asset and is therefore a capital and not a revenue receipt. Illustrations of such cases are to be found in Van den Bergh Ltd 19 TC 390, (1935) AC 431, and Barr, Crombie & Co Ltd 26 TC 406, 1945 SC 271. On the other hand when the benefit surrendered on calculation does not represent the loss of an enduring asset in circumstances such as those above mentioned â where for example the structure of the recipientâs business is so fashioned as to absorb the shock as one of the normal incidents to be looked for and where it appears that the compensation received is no more than a surrogatum for the future profits surrendered â the compensation received is in use to be treated as a revenue receipt and not a capital receiptâ (onderstreping aangebring).
GEVOLGTREKKING
[27] Die betaling wat gemaak was in die woorde hierbo aangehaal deur Regter Coetzee was âa surrogatum for the future profits surrenderedâ. Sodanige betaling moet as een van ân inkomste aard beskou word. Indien die kontrak tot ân einde geloop het sou die inkomste wat verkry word sonder enige twyfel van ân inkomste aard wees. Wat die appellant hier gedoen het was om ân mindere bedrag te aanvaar as ân surrogaat vir die inkomste wat hy sou verdien het. Die poging om dit in te klee as die afkoop van ân reg word nie gestaaf deur die finansiele state van die appellant nie. Klousule 2 is ân standaard klousule as partye ân geding tussen hulle skik. Of die geding hangende is of nog nie ingestel is, maak nie saak nie. So sal hulle seker maak dat dit die einde van litigasie beteken. Dit is om ân tipe res judicata situasie te bewerkstellig. Die appellant het eenvoudig besluit hy moet so gou as moontlik inkomste inkry ten einde met sy besigheid te kan voortgaan. Hy was bereid om ân mindere inkomste te neem as wat hy moontlik by wyse van litigasie sou kry. Hier was ân vooruitbetaling van inkomste. Dit is ân skikking van ân moontlike aksie vir skadevergoeding en het onstaan as gevolg van ân transaksie wat as dit voltooi sou gewees het inkomste sou opgelewer het. In hierdie saak is ook geen beperking geplaas op die handelsvryheid van die appellant nie. Sy hoofaktiwiteit as hotelier kon onbelemmerd voortgaan. Dus was hierdie bedrag van ân inkomste aard en staan dit vas dat die respondent se aanslag korrek was.
[28] Beide partye het gesê dat hulle nie vir ân kostebevel vra nie.
[29] Die volgende bevel word dus gemaak:
Die appèl word afgewys.
_____________
KRUGER, R
________________________
ASSESSOR: MNR. A. KOCH
______________________
ASSESSOR: MNR D. SMIT
/em