Download PDF

South Africa Judgment

High Courts - Eastern Cape

Steyn and Another v Minister van Veiligheid en Sekuriteit (3585/06) [2007] ZAECHC 103 (4 December 2007)

On this page

Professional case brief

Research organized from the available case record

Source document

01

Holding and result

The court found that Inspector Dolozi lawfully arrested the applicants under section 40(1)(j) of the Criminal Procedure Act, as they obstructed the police in the execution of their duties. The evidence presented by the applicants regarding assault and the use of pepper spray was inconsistent and unconvincing, and the court preferred the respondent's version. The continued detention of the applicants was in accordance with statutory requirements, as they were brought before court within the prescribed period and there was no evidence of improper conduct by the police. The applicants failed to prove any element of malicious prosecution or unlawful detention. Consequently, all claims for damages, including those for assault, unlawful arrest, and legal costs, were dismissed.

Court disposition

All claims by the applicants are dismissed with costs.

Orders

  • Both applicants' claims are dismissed with costs.

02

Material facts

Parties

Mark Gideon Steyn

Applicant Counsel: Adv P Mouton

Amanda Steyn

Applicant Counsel: Adv P Mouton

Minister van Veiligheid en Sekuriteit

Respondent Counsel: Adv G Bloem

Amounts and remedies

  • Applicant's Bail Amount: ZAR 300
  • Second Applicant's Bail Amount: ZAR 300
  • Second Applicant's Legal Costs Claimed: ZAR 33,000

03

Procedural history

  1. Posture

    Civil Trial / First Instance

04

Questions and positions

Legal issues

Party arguments

Applicant
The applicants argued that their arrest without a warrant and subsequent detention were unlawful, as they did not commit any crime and did not obstruct the police in the execution of their duties. They further alleged that they were assaulted during the arrest, including being sprayed with pepper spray and physically manhandled. The applicants claimed damages for assault, unlawful arrest, and legal costs incurred due to the criminal charges, which were later withdrawn. They contended that there was no justification for their continued detention and that the police could have released them on warning or bail earlier.
Respondent
The respondent, represented by Inspector Dolozi, maintained that the arrest was lawful under section 40(1)(j) of the Criminal Procedure Act, as the applicants obstructed the police in the execution of their duties. Inspector Dolozi denied using pepper spray or assaulting the applicants, stating that any physical contact resulted from the applicants' resistance to arrest. The respondent argued that the continued detention was lawful and in accordance with statutory requirements, as the applicants were brought before court within the prescribed period. The respondent denied liability for damages or malicious prosecution.

05

Court’s reasoning

  1. 01

    Section 40(1)(j) of the Criminal Procedure Act 51 of 1977

    A police officer may lawfully arrest without a warrant any person who obstructs the police in the execution of their duties, provided the arrest is justified by the circumstances.

  2. 02

    South African Police Service Standing Order (G) 341

    Arrest constitutes one of the most drastic infringements of an individual's rights and should be regarded as a last resort, but may be justified where immediate action is required to maintain law and order.

  3. 03

    Ochse v King William’s Town Municipality 1990 (2) SA 855 (E)

    To succeed in a claim for malicious prosecution, the plaintiff must prove that a prosecution was instituted, that it was done without reasonable grounds and with malice, and that the proceedings terminated in the plaintiff's favour.

  4. 04

    Charles v Minister of Safety and Security 2006 JOL 17224 (W)

    There is no rule of law requiring the milder method of securing a person's attendance at court to be used whenever it will be equally effective; compliance with section 40 affords protection to peace officers.

  5. 05

    Section 50 of the Criminal Procedure Act 51 of 1977

    The police must bring an arrested person before court as soon as possible, but not later than 48 hours after arrest, unless the period expires outside court hours or on a non-court day.

06

Ratio, limits and disposition

Ratio decidendi

The court found that Inspector Dolozi lawfully arrested the applicants under section 40(1)(j) of the Criminal Procedure Act, as they obstructed the police in the execution of their duties. The evidence presented by the applicants regarding assault and the use of pepper spray was inconsistent and unconvincing, and the court preferred the respondent's version. The continued detention of the applicants was in accordance with statutory requirements, as they were brought before court within the prescribed period and there was no evidence of improper conduct by the police. The applicants failed to prove any element of malicious prosecution or unlawful detention. Consequently, all claims for damages, including those for assault, unlawful arrest, and legal costs, were dismissed.

Obiter and limits

  • The court noted that while arrest is a drastic measure, it may be necessary in circumstances where immediate action is required to maintain law and order.
  • The court distinguished the facts of this case from those in Louw and Another v Minister of Safety and Security, finding that the police acted reasonably and lawfully under the circumstances.
  • The applicants' lack of cooperation with the police and failure to request release on warning or bail contributed to the lawfulness of their continued detention.

Court disposition

All claims by the applicants are dismissed with costs.

  • Both applicants' claims are dismissed with costs.

Source and reliance status

High Courts - Eastern Cape

This page organises the available record for research. Confirm quotations, current status, and subsequent treatment against the official source before relying on the case.

Judgment reading view

Judgment text

The complete available source text.

Source document

High Courts - Eastern Cape

Judgment

[2007] ZAECHC 103

FORM A

FILING SHEET FOR EASTERN CAPE

JUDGMENT

NOT REPORTABLE

PARTIES: M G STEYN + 1 V MIN OF SAFETY AND SECURITY

REFERENCE NUMBERS -

Case Number: 3585/06 (SECLD)

High Court: OOS

KAAPSE AFDELING

DATE DELIVERED: 4 December 2007

JUDGE(S):

JANSEN J

LEGAL REPRESENTATIVES -

Appearances:

for the State/Applicant(s)/Appellant(s): ADV

P MOUTON

for the accused/respondent(s): ADV

G BLOEM

Instructing attorneys:

Applicant(s)/Appellant(s):

LE

ROUX INC

Respondent(s):

STATE

ATTORNEY

CASE INFORMATION -

Nature of proceedings :

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA NOT

REPORTABLE

(OOS KAAPSE AFDELING)

Saakno.: 3585/06

Datum gelewer: 4/12/07

In die saak tussen:

MARK GIDEON STEYN Eerste Eiser

AMANDA STEYN Tweede Eiser

en

DIE

MINISTER VAN VEILIGHEID EN

SEKURITEIT Verweerder

UITSPRAAK

JANSEN, R:

Die arrestasie van die twee eisers op 7 April 2006 in die Nomtahamsanqa woongebied by Addo deur inspekteur Vuyo Gladman Dolozi, verbonde aan die Suid-Afrikaanse Polisie Diens te Addo, en hulle aanhouding vir ‘n paar dae, het gelei tot hierdie eis teen die verweerder in wie se diens inspekteur Dolozi in die uitvoering van sy pligte en werksaamhede opgetree het. Dit is gemeensaak dat die arrestasie sonder ‘n lasbrief uitgevoer is. Dit is verder gemeensaak dat die twee eisers na hulle arrestasie na die Addo Polisiestasie geneem is waar hulle vanaf Vrydag 7 April tot Maandag 10 April aangehou is, waarna hulle in die Landdroshof verskyn het. Borgtog ten bedrae van R300 is vir elkeen vasgestel. Die tweede eiseres se borgtog is dieselfde dag betaal, maar die eerste eiser se borgtog is eers die 11de April betaal waarna hy vrygelaat is.

Dit is nie in geskil geplaas dat die twee eisers gearresteer is op ‘n aanklag dat hulle die polisie verhinder het in die uitvoering van hul pligte nie. Die polisiebeampte betrokke was inspekteur Dolozi. Dit was die eiser se saak dat hulle nie die betrokke misdryf gepleeg het nie, dat hulle geen misdryf gepleeg het nie, en dat hulle arrestasie en aanhouding derhalwe onwettig was. Die eisers beweer verder dat hulle aangerand is tydens die arrestasie en verder dat hulle regskoste moes aangaan wat verband gehou het met die aanklag waarop hulle op 10 April 2006 in die hof verskyn het. Hierdie regskoste word ook van die verweerder geëis. Dit is gemeensaak dat die aanklag van oortreding van artikel 67 van die Polisiewet No. 68 van 1995 waarop die eisers tereg gestaan het op 12 September 2006 deur die staatsaanklaer teruggetrek is. Dit is egter nie in geskil geplaas nie dat die Direkteur van Openbare Vervolgings besluit het om desnieteenstaande die terugtrekking van die aanklag voort te gaan met die vervolging teen die twee eisers op dieselfde aanklag.

Dit is gemeensaak dat die bewyslas op die verweerder is om op ‘n oorwig van waarskynlikhede aan te toon dat die arrestasie en die daaropvolgende aanhouding van die eisers regmatig was. Die bewyslas ten aansien van die eis om skadevergoeding weens aanranding en aangegaande regskoste is op die eisers. Beide eisers het getuig en ook ‘n ooggetuie van die voorval geroep. Namens die verweerder het slegs inspekteur Dolozi getuig.

Volgens die tweede eiseres, mev Steyn was sy na ses die aand van 7 April 2006 in haar kamer op haar bed toe sy ‘n geraas buite gehoor het. Sy het na buite gegaan en twee dames wat in polisie-uniform gekleed was in die perseel aangetref. Sy het met hulle gepraat en gevra wat aangaan toe inspekteur Dolozi, wat sy nie geken het nie, om die hoek van ‘n ander huis op die perseel daar aankom en haar in kru taal aanspreek en sê dat sy nie nonsens moet praat nie. Sy het hom in dieselfde kru taal meegedeel dat sy nie nonsens praat nie. Sy het hom verder meegedeel dat sy net navraag doen omtrent wat op die perseel gebeur. Hy het haar daarop aan haar regterskouer gegryp en haar op die grond neergegooi. In die proses het sy op haar seuntjie wat daar saam met haar was geval. Inspekteur Dolozi het haar daarna weer opgepluk en haar voor haar bors gegryp en haar begin wurg met die bloes wat sy aangehad het. In die proses het haar romp agter oopgeskeur. Hy het haar toe gesleep in die rigting van die polisievoertuig. Op pad soontoe het ‘n ou kar gestaan. Toe hulle daar verby gaan het sy haar hand in die kar gesteek en haar arm vasgewoel aan die veiligheidsgordel en inspekteur Dolozi meegedeel dat sy nie daar sal weg gaan en dat hy haar nie daar sal los kry voordat haar man daar aankom nie. In die proses het hy haar meegedeel dat hy haar sou wurg totdat sy dood is. Inspekteur Dolozi het

daarop ‘n blikkie uit ‘n sakkie aan sy sy geneem, dit geskud en in die rigting van haar gesig gespuit. Sy het haar gesig weggedraai en hy het haar toe in haar oor gespuit. Hierdie spuit het tot gevolg gehad dat haar oor geswel was en rooi was, dat haar neus gebrand het en sy die reuk van peper waargeneem het. Inspekteur Dolozi het daarop aan die polisievrouens saam met hom gesê dat hulle hulp moes ontbied. ‘n Ander polisievoertuig het toe ook daar aangekom. Kort daarna het sy haar man, die eerste eiser, aangehardloop sien kom. Met sy aankoms daar het hy onmiddellik aan inspekteur Dolozi gevra waarom sy vrou daar aangehou word. Dolozi se reaksie daarop was om aan ‘n polisiebeampte te sê om mnr Steyn ook te vat. Die polisie het hom toe gevat en hom ook gespuit en toe in die vangwa gegooi. Sy het daarop haar greep aan die veiligheidsgordel verslap waarop inspekteur Dolozi haar gevat en ook in ‘n vangwa ingegooi het. Hy het haar, soos sy dit gestel, aan haar agterstewe gevat. Met die ingooiproses het sy op haar knieë geval. Hulle het daarop na die polisiestasie op Addo gery. Daar aangekom het sy uit die vangwa geklim. Inspekteur Dolozi het haar aan haar bloes agter aan haar nek gegryp en haar in die polisiestasie ingestoot. Binne in die aanklagkantoor het sy op die teëls gegly maar nie geval nie. Sy het hom toe gevra om haar nie te stoot nie waarop hy haar teen die

muur vasgedruk het en haar teen haar wang geklap het. Dit was op haar regterwang. Sy het toe gestaan en huil. Inspekteur Dolozi het daarop mnr Steyn voor sy bors gegryp en hom opgelig en vas teen die muur gedruk. Mnr Steyn het toe aan hom gesê dat hy nog nie by die huis was nie en van die werk afkom en het ook sy geld wat hy verdien het uit sy sak gehaal en dit aan inspekteur Dolozi gewys. Inspekteur Dolozi het, volgens haar, met kru taal daarop gereageer. Inspekteur Dolozi het daarop vir die vrouens gevra waarvan hy die eisers moet aankla. Hulle het toe geantwoord dat hy moet skryf dat die eisers hom verhinder het om sy pligte na te kom. Inspekteur Dolozi het daarop gaan sit en skryf. Sy is daarna na ‘n sel geneem waar sy toegesluit is. ‘n Ruk later het haar man ook daar aangekom. Hulle is saam toegesluit. Later die aand was daar ‘n persoon onder die invloed van drank ‘n rukkie saam met hulle aangehou. Die volgende oggend is hulle na die speurderskantoor. Nadat die speurder met hulle gepraat het is hulle vingerafdrukke geneem. Sy is daarna na ‘n groot sel geneem waar ander vrouens ook aangehou is. Die sel was vuil en sy het net ‘n dun matjie en ‘n vuil kombers gekry. Sy is aangehou daar tot die Maandag waarop sy na die Landdroskantoor geneem is en op borg vrygelaat is. Sy het haar prokureur gebel wat aan haar sekere opdragte gegee het. Daarna is sy na ‘n

dokter wat haar medies ondersoek het. Sy het pyn in haar lae rug gehad. Sy sê dat haar keel ook opgeswel was as gevolg van die gewurg. As gevolg van die feit dat die bloes so styf om haar nek getrek is met die wurgery het haar bloes haar nek “gesny”, soos sy dit gestel het, wat bloeding tot gevolg gehad het. Dit was ook baie seer. Die merk veroorsaak deur die bloes wat gebruik is om haar te wurg was lank sigbaar en ‘n dowwe merk kan nou nog gesien word langs haar nek. Sy het pille by die dokter gekry vir pyn. Haar regskoste wat sy aangegaan het vir die saak wat op 12 September 2006 teruggetrek is was meer as R33 000. Sy hou vol dat daar geen rede vir inspekteur Dolozi was om haar vas te gryp en haar te arresteer nie. Sy ontken dat sy die polisie verhinder het in die uitvoering van hulle pligte.

Die eerste eiser, mnr Steyn het getuig dat hy op pad huis toe ‘n berig van ‘n vrou ontvang het. Sy het vir hom gesê dat hy moet gaan kyk wat daar op sy perseel aangaan. Hy het daarop begin hardloop na sy perseel toe. Toe hy daar kom het hy ‘n klomp mense en polisievoertuie en polisiemanne op die toneel gesien. Hy sien ook inspekteur Dolozi het sy vrou styf aan haar klere beet. Dit was in die omgewing van haar skouer. Sy het teen ‘n ou kar wat in die perseel was gestaan. Hy het onmiddellik vir inspekteur Dolozi gevra waarom hy sy vrou vashou en hom gevra of sy iets verkeerd gedoen het. Die reaksie van inspekteur Dolozi was dat hy nie nonsens moet praat nie, weereens in kru taal. Mnr Steyn het nog ‘n keer gevra wat sy vrou gedoen het waarop inspekteur Dolozi aan hom gesê het dat hy hom ook sommer in die vangwa sou gooi. ‘n Wit polisieman het daarop hom van agter aan albei sy arms vasgegryp en hom in die lug opgetel. Inspekteur Dolozi het hom daarop met traangas in die gesig gespuit. Die polisiebeampte wat hom van agter gegryp het, het hom na die vangwa gedra en agter ingegooi. Hulle is daarop na die Addo Polisiestasie waar hy agter uit die vangwa gepluk is. Sy vrou het ook daar aangekom in ‘n ander vangwa. Inspekteur Dolozi het haar van agter gestoot. Sy het hom gevra om dit nie te doen nie waarna hy ‘n geluid gehoor het wat hy aanvaar het ‘n klap teen haar

wang was. Hy het nie die klap gesien nie. Inspekteur Dolozi het hom toe gegryp en hom teen die muur vasgedruk. Hy het nog steeds geprotesteer en gesê dat hy niks verkeerd gedoen het nie en het weereens gevra wat hulle gedoen het, waarom hulle gearresteer is. Hy is weer in kru taal aangesê om nie nonsens te praat nie. Mev Steyn is eers na ‘n sel geneem waarna hy gevolg het. Die volgende dag is hulle na die speurderskantore waar dit aan hom verduidelik is dat hulle aangekla word op ‘n aanklag dat hulle die polisie verhinder het in die uitvoering van hulle pligte. Hy is daarna na ‘n sel waar hy saam met ongeveer nege mans toegesluit is. Die sel was morsig en vuil en die vlooie het hom gebyt. Maandag is hulle hof toe geneem waar borg vasgestel is en hy is Dinsdag op borgtog vrygelaat. Tydens kruisverhoor sê hy dat die ergste wat die betrokke aand met hom gebeur het was die spuit met traanrook. Hy erken dat hy nooit aangerand was nie. Hy het ook nie gesien dat hy gespuit word met traanrook nie. Alles het te vinnig gebeur. Hy het net gevoel dat sy oë ‘n bietjie brand.

John Makotwana wat saam met mnr Steyn werk het die betrokke dag van die werk af saam met hom huis toe gestap. Op pad soontoe het hulle ‘n rapport ontvang van polisie wat by die Steyn se huis is. Hulle het net normaalweg verder aangestap tot by die huis. Toe hulle daar aankom het hy gesien dat ‘n polisiebeampte mev Steyn aan die bors beet het waar hulle teen ‘n ou kar op die perseel staan. Sy het iewers binne in die kar aan iets vasgehou. Dit het vir hom gelyk asof dit aan die pilaar aan die bestuurder se kant was. Mnr Steyn het daarop vir die polisiebeampte gevra wat aangaan. Sonder dat daar enige woord geantwoord is deur die polisiebeampte spuit hy vir mnr Steyn met pepersproei in die gesig. Twee ander polisiebeamptes het toe daar aangekom en mnr Steyn gegryp en hom in die vangwa gaan gooi. Een van die polisiebeamptes het hom aan die bolyf gehad en die ander aan die bene. Nadat hulle dit gedoen het is mev Steyn met pepersproei in die gesig gespuit. Sy het toe die greep op die kar se deur gelos. Sy is toe geneem en in die ander vangwa ingegooi. Die polisievoertuie met die twee eisers het toe daarvandaan weggery. Tydens kruisverhoor sê hy dat mev Steyn gehuil het terwyl sy aan die pilaar staan en vashou het. Tydens kruisverhoor sê hy dat mev Steyn deur ‘n polisiebeampte genaamd David in die vangwa ingestoot is nadat sy haar been opgelig het terwyl inspekteur Dolozi haar nog steeds aan die skouer vasgehou het. Hy sê dat Dolozi haar nie in die vangwa gegooi het nie. Hy herhaal tydens kruisverhoor dat toe mnr Steyn in die vangwa ingegooi is sy vrou en Dolozi nog steeds by die kar was.

Inspekteur Dolozi is in diens van die Suid-Afrikaanse Polisie sedert 1986. Hy is in 1997 tot die rang van inspekteur bevorder. Hy was die betrokke dag met misdaadvoorkomingsdiens besig in die Addo omgewing. Hy was in beheer van ‘n polisievangwa. Twee polisievrouens, een ‘n student, was saam met hom aan diens. Op ‘n stadium toe dit reeds so donker was dat ‘n voertuig met hoofligte moes ry, dit wil sê na ses die aand, het hy ‘n motorvoertuig met ‘n hoë spoed sonder ligte in die woonbuurt sien ry. Die bestuurder het die voertuig sodanig bestuur dat voetgangers hulle moes haas om uit die pad van die voertuig op spoed te kom. Volgens die oordeel van inspekteur Dolozi het hierdie bestuurder hom skuldig gemaak aan roekelose bestuur. Hy het daarop besluit om op te tree. Hy het die voertuig agterna gesit met die blou polisieligte aangeskakel. Die voertuig het gery tot in die perseel wat later geblyk het ‘n perseel te wees waarop, benewens die eiser se huis, nog ‘n aantal ander plakkershuise op was. Toe inspekteur Dolozi reg agter die voertuig stilhou het die bestuurder uitgespring en weggehardloop. Inspekteur Dolozi is agterna. Hy het die persoon ingehaal tussen die plakkershuise. Hy het hom van agter gegryp, maar die persoon het weerstand gebied en sy lyf heen en weer geruk in ‘n poging om los te kom. Die tweede eiseres, mev Steyn, het daarop by hulle aangesluit. Sy

het die arm van inspekteur Dolozi waarmee hy die persoon wat hy wou arresteer vasgehou het gegryp en daaraan geruk en pluk. Sy het hom meegedeel dat dit haar erf daardie was. Inspekteur Dolozi het haar toe meegedeel dat hy besig was om die man te arresteer waarop sy weer aan hom gesê het dat dit haar erf was. Hy het haar daarop meegedeel dat sy met sy pligte inmeng. In die proses het die persoon losgekom en weggehardloop. Hy het daarop aan haar gesê dat hy haar arresteer omdat sy met sy pligte ingemeng het. Toe hy haar wou neem om saam met hom te vat het sy hom vasgegryp aan die bors. In die tussentyd het heelwat mense daar begin saamdrom. Hy het sy kollegas gevra om hulp te ontbied. Hy het toe nog steeds die eiseres vasgehou. Sy het hom ook vasgegryp. In die proses het sy ook probeer losruk. Sy het daarin geslaag en het op die grond geval. Hy het haar opgehelp en haar weer vasgehou. Hy het met haar geloop in die rigting van die vangwa. In die tussentyd het hy gesien dat van die passassiers van die voertuig wat hy agtervolg het die voertuig dieper die perseel ingestoot het. Op pad na die vangwa moes hulle verby hierdie voertuig gaan. In die proses het die eiseres haar hand deur die venster van die voertuig gesteek en die stuurwiel vasgegryp. Sy het teenstand gebied en wou nie verder saam gaan nie. Die eerste eiser, mnr Steyn het toe daar aangekom. Hy wou weet wat aangaan. Mev

Steyn het nog steeds aan die kar vasgehou. Inspekteur Dolozi het daarop vir mnr Steyn gesê dat hy sy vrou arresteer omdat sy met sy werk ingemeng het. Mnr Steyn het daarop die vrou vasgegryp en vir inspekteur Dolozi meegedeel dat sy nêrens gaan nie. Inspekteur Dolozi het daarop aan mnr Steyn gesê dat sy vrou ingemeng het met sy pligte en dat hy nou dieselfde doen. Hy het daarop van die ander polisiebeamptes nader geroep om hom te help om beide eisers te arresteer. Konstabel van Eck en reservis konstabel Daniels het daarop mnr Steyn vasgegryp en hy is toe gearresteer. Beide die eisers is daarna in afsonderlike polisievangwaens na die aanklagkantoor geneem waar inspekteur Dolozi beide van hulle aangekla het op aanklagte dat hulle die polisie verhinder het in die uitvoering van hulle pligte. Hy het beide van hulle in aanhoudingselle geplaas. Hy het ontken dat hy enigsins pepersproei gebruik het op enige van die eisers. Hy ontken ook dat hy die eisers enigsins aangerand het.

Dit is geensins in geskil geplaas dat inspekteur Dolozi die betrokke aand ‘n voertuig agterna gesit het wat hy gereken het te vinnig bestuur is in ‘n woongebied sonder dat sy hoofligte aangeskakel is nie. Hierdie voertuig het ‘n gevaar vir voetgangers en ander padgebruikers ingehou. Ek het geen huiwering nie om hierdie getuienis van inspekteur Dolozi te aanvaar. Stawing vir hierdie getuienis van inspekteur Dolozi kan gevind word in ‘n verklaring wat hy in sy eie handskrif afgelê het dieselfde aand van die voorval, welke verklaring deur die eisers bewys is tydens kruisverhoor van inspekteur Dolozi. Die enigste rede waarom inspekteur Dolozi die perseel ingegaan het die betrokke aand was om die bestuurder van die voertuig te konfronteer. Dit was toe mev Steyn ingemeng het. Op mev Steyn se weergawe was daar geen rede hoegenaamd vir inspekteur Dolozi om so op te tree soos sy sê hy gedoen het bloot op ‘n vraag van haar aan die twee polisiedames wat gebeur het nie. Ek vind dit hoogs onwaarskynlik dat inspekteur Dolozi, ‘n ervare polisiebeampte, ‘n persoon wat hy van geen kant geken het nie sal vloek en sal gryp en op die grond sal gooi bo-op haar kind in reaksie op ‘n eenvoudige onskuldige vraag wat nie eens aan hom gerig is nie. Die waarskynlikhede is oorweldigend in die guns van die verweerder dat inspekteur Dolozi inderdaad agter die roekelose bestuurder aan was

en dat mev Steyn ingemeng het met hom toe hy besig was om sy pligte uit te voer. Hy het haar behoorlik gewaarsku dat sy nie daarmee moet voortgaan nie. Nogtans het sy aangehou en het uiteindelik veroorsaak dat die persoon wat beetgekry is deur inspekteur Dolozi los kom en van die toneel kon wegvlug. Dit blyk verder uit die getuienis van inspekteur Dolozi dat toe hy haar wou arresteer op die aanklag soos hy haar meegedeel het, sy haar verder verset het teen arrestasie. In die proses het sy inspekteur Dolozi vasgegryp sodat ‘n knoop van sy hemp afgeruk was. In die proses het sy ook op die grond beland. Sy erken self dat toe sy na die vangwa geneem is sy haar verset het deurdat sy die motorvoertuig waarby hulle verby geloop het vasgegryp het sodat sy nie verder verwyder kon word en na die vangwa geneem kon word nie.

Die getuienis van mnr Steyn ten aansien van sy arrestasie is na my oordeel ook hoogs onwaarskynlik. Dit is ondenkbaar dat ‘n polisiebeampte, en veral ‘n ervare een soos inspekteur Dolozi, so sou optree soos die eiser en sy getuie beweer opgetree is. Op hulle weergawe het mnr Steyn bloot vir inspekteur Dolozi gevra wat gebeur. Hy is daarna in die gesig gespuit en onmiddellik gearresteer. Mnr Steyn self het nie gesien dat hy in die gesig gespuit word nie. Al wat hy agtergekom het is dat sy oë effens brand. Ek kan nie aanvaar dat dit so gebeur het nie. Sy aandag was spesifiek gevestig op inspekteur Dolozi toe hy navraag oor sy vrou gedoen het. Dit is total onwaarskynlik dat inspekteur Dolozi op ‘n eenvoudige navraag nie ‘n antwoord sou gegee het nie, maar onmiddellik sonder enige rede traangas (of pepersproei) in mnr Steyn se gesig gespuit het en hom laat arresteer het.

Die eiser se weergawe van die pepersproei (of die traangas soos mnr Steyn daarna verwys) maak ook nie sin nie. Volgens inspekteur Dolozi was dit nie nodig in die omstandighede om pepersproei, waarmee die polisie gewoonlik uitgerus word, te gebruik nie. Die situasie was nie sodanig dat die gebruik daarvan noodsaaklik was nie. Verder, sê hy, het hy nie die betrokke dag pepersproei by hom gehad nie aangesien sy pepersproei ingehandig is omdat dit “geblok” was. Hy het getuig dat hy tydens sy opleiding te doen gekry het met pepersproei. Die effek daarvan op ‘n persoon is baie erg, sê hy. ‘n Persoon wat daarmee gespuit word se oë traan geweldig en dit het so ‘n effek op ‘n persoon dat jy nie eens jou oë kan oopmaak indien jy daarmee gespuit is nie. Hierdie getuienis is onbetwis. Geen sodanige effek is deur een van die Steyns waargeneem nie. Daar is ook ‘n enorme weerspreking tussen die getuies en spesifiek tussen die Steyns en John Makotwana teen aansien van die gebruik van die pepersproei op mev Steyn. Volgens John is dit gedoen nadat mnr Steyn reeds in die vangwa geplaas is. Volgens mev Steyn is sy met pepersproei gespuit voordat mnr Steyn en John Makotwana nog op die toneel verskyn het. Hierdie weerspreking is sodanig dat ek sonder enige twyfel kan aanvaar dat die pepersproeistorie ‘n versinsel is. Ek aanvaar inspekteur Dolozi se getuienis dat hy dit nie gebruik het op enige van die eisers nie.

Die tweede eis wat geformuleer is deur die eisers handel met ‘n beweerde aanranding op die eerste eiser. Die bewerings van aanranding wat gemaak is, is dat mnr Steyn wederregtelik en opsetlik deur inspekteur Dolozi aangerand is deurdat hy met geweld gegryp en teen ‘n muur vasgedruk was, dat hy met ‘n middel (waarskynlik traangas) in die gesig gespuit was en dat hy met geweld in en uit die polisievoertuig gelaai was. Ek het reeds met die spuit in die gesig gehandel. Na my oordeel het die eiser dit nie bewys nie. Volgens mev Steyn het inspekteur Dolozi in die aanklagkantoor vir die eerste eiser met die een hand aan die nek gegryp en hom opgelig en hom teen die muur vasgedruk. Sy sê dat sy dit gesien het. Volgens mnr Steyn het inspekteur Dolozi hom gegryp en hom teen die muur vasgedruk. Hy het hom voor sy bors gegryp. Hy is beslis dat die inspekteur hom nie teen die muur opgehys het soos sy vrou getuig het nie. Hy gaan verder en sê dat sy vrou glad nie teenwoordig was toe die insident met hom gebeur het nie aangesien sy toe alreeds in die sel toegesluit was. Uiteindelik onder kruisverhoor sê mnr Steyn dat die ergste wat met hom gebeur het was die spuit in sy gesig. Mnr Dolozi ontken dat hy ooit mnr Steyn aan die bors gegryp het en teen die muur vasgedruk het. Daar was geen rede vir hom om dit te doen nie. Ek vind die eiser se getuienis onwaarskynlik. Ten aansien van die

in- en uitlaaiery by die vangwa, wat volgens die eerste eiser op ‘n aanranding neerkom, bots sy getuienis met sy bewerings in die besonderhede van vordering. Die bewerings is gemaak in sy eis dat hy deur inspekteur Dolozi aangerand is en deur hom met geweld in en uit die polisievoertuig gelaai was. Sy getuienis was dat hy deur ‘n blanke polisiebeampte van agter vasgegryp is en opgetel is en deur hom met geweld in die voertuig gegooi is. Volgens John Makotwana was twee polisiebeamptes hierby betrokke, een aan die bolyf en die ander aan die bene, waarna hy in die vangwa gegooi is. Teenoor hierdie teenstrydigheid is daar die getuienis van inspekteur Dolozi dat nadat hy self die vangwadeur oopgemaak het konstabel van Eck mnr Steyn aangesê het om in die vangwa in te klim. Hy het daarop gereageer en is beslis nie ingegooi nie. Hierdie getuienis van hom is nie aangeval nie. Mnr Steyn self het nie getuienis aangebied wat daarop dui dat hy by die polisiestasie met geweld uit die voertuig gelaai was nie. Hy vat dit nie verder as om te sê dat hy uit die vangwa gepluk is nie. Dit is ook nooit aan inspekteur Dolozi gestel dat die optrede van die polisie met die uitlaai van mnr Steyn op ‘n aanranding neergekom het nie.

Ten aansien van eis drie wat handel met die beweerde aanranding op die tweede eiseres word ook in die besonderhede van vordering die bewering gemaak dat inspekteur Dolozi die eiseres aangerand het deur haar met geweld aan haar regterskouer te gryp en teen die grond neer te gooi, met geweld vanaf die grond opgeruk is en met geweld teen ‘n motorvoertuig vasgedruk was, met ‘n oop hand in die gesig geklap was, met ‘n middel (waarskynlik traangas) in die gesig gespuit was en met geweld in en uit die polisievoertuig gelaai was. Ten aansien van die eerste bewering het ek reeds bevind dat mev Steyn ingemeng het met die optrede van inspekteur Dolozi nadat hy die verdagte bestuurder gekonfronteer het. Alhoewel inspekteur Dolozi erken het dat die eiseres teen die grond geval het ontken hy dat hy haar neergegooi het. Hy erken dat sy geval het, maar skryf dit toe aan haar optrede toe sy daar aan hom rondgepluk het. Dit was in die proses wat sy knoop van sy hemp ook afgebreek het. Ek het reeds na die onwaarskynlikheid in die getuienis van die eiseres verwys en kom tot die gevolgtrekking dat haar weergawe dat sy op grond neergegooi is nie aanvaar kan word nie. Inspekteur Dolozi, wat my gunstig beindruk het as ‘n getuie, het getuig dat nadat die eiseres geval het hy haar opgehelp het. Dit was natuurlik in die proses waar hy haar na haar arrestasie in die vangwa wou sit. Die bewering

dat hy haar met geweld teen ‘n motorvoertuig vasgedruk het word nie deur haar eie getuienis gestaaf nie. Sy het getuig dat sy die motorvoertuig gebruik het om haar te verset teen die arrestasie wat op haar uitgevoer is. Mev Steyn was ‘n enkelgetuie ten aansien van die klap in die gesig. Sy was ‘n swak getuie wat nie eers deur haar man op hierdie aspek gestaaf word nie. Hy getuig slegs dat hy iets gehoor het wat hy aanvaar het ‘n klap moes wees. Hy was in haar teenwoordigheid, volgens hom. Mnr Mouton, namens die eisers, het nie betoog dat enigeen van hulle ‘n goeie getuie was nie. Hy het toe hy hulle as getuies in sy betoog behandel het na hulle verwys as “ongesofistikeerde persone”. Nie een van hulle het my as ongesofistikeerd voorgekom nie. Ek het al baie te doen gehad met ongesofistikerde getuies wie se getuienis ek aanvaar het. Mev Steyn tel nie onder een van hulle nie. Met die middel wat in die gesig gespuit is het ek reeds gehandel. Die erge effek van pepersproei in die oë waarna ek hierbo verwys het is nie ondervind deur mev Steyn nie. Die indruk wat aanvanklik gelaat is dat haar oor ‘n na-effek gehad het as gevolg van die spuit in haar oor, is later afgewater deurdat sy getuig het dat ‘n vrou aan haar sou gesê het dat haar oor effens pienk was. Sy self het dit nie gesien nie. In haar besonderhede van vordering is dit genoem dat die middel waarmee sy

gespuit is waarskynlik traangas was. Dit was haar opdrag aan haar prokureur. As sy ‘n opdrag gegee het dat sy ‘n pepersmaak in haar mond gekry het sou dit ongetwyfeld gemeld gewees het dat die middel waarmee sy gespuit was waarskynlik pepersproei was. Sy het ook nie getuig dat die dokter enigsins enige tekens van ‘n aanranding op haar gesien het nie. Die ongemak in haar rug waarvoor sy pille gekry het by die dokter blyk die nagevolg van ‘n motorongeluk te gewees het. Ten aansien van haar hantering deur inspekteur Dolozi het sy bewerings gemaak in haar getuienis wat sy duidelik nie aan haar regsverteenwoordigers gemeld het nie en wat nie in die besonderhede van vordering gemeld is nie. Dit is die beserings aan haar linkernek wat volgens haar gebloei het as gevolg van die gewurg deur inspekteur Dolozi met haar klere, wat sy beskryf uiteindelik haar aan die nek “gesny” het. Dit is duidelik dat hierdie ‘n versinsel aan haar kant was. Soos sy dit versin het het sy ander goed ook versin. Sy beweer verder dat haar in- en uitlaaiery uit die polisievoertuig met geweld plaasgevind het. Volgens haar, is sy, toe sy in die vangwa gelaai is, van agter teen haar boude gestoot sodat sy op haar knieë geval het. Sy is egter glad nie beseer nie. Volgens John Makotwana is sy deur drie polisiebeamptes na die vangwa begelei. Toe sy haar been oplig om in te klim is sy deur ‘n

polisiebeampte met die naam van David in die vangwa ingestoot terwyl inspekteur Dolozi haar nog aan haar skouer vasgehou het. Hy stel dit spesifiek dat inspekteur Dolozi haar nie in die vangwa ingegooi het nie. Mev Steyn getuig nie dat sy met geweld uit die vangwa by die polisiestasie gehaal is nie. Wat sy wel getuig is dat nadat sy uit die vangwa gelaai is inspekteur Dolozi haar van agter aan die nek aan haar bloes gegryp het en haar in die polisiestasie ingestoot het sodat sy op die teëls gegly het. Dit is weer ‘n bewering wat glad nie in die besonderhede van vordering gemeld is nie. Wanneer alles in ag geneem word is ek van oordeel dat die eiseres nie bewys het dat enige optrede van inspekteur Dolozi teenoor haar op ‘n aanranding neergekom het nie.

Ten aansien van die vierde eis vorder die eisers koste wat hulle aangegaan het uit hoofde van die ongeregverdigde aanhouding en daaropvolgende vervolging van die eisers in ‘n strafhof. Ten einde te slaag op ‘n eis weens kwaadwillige vervolging moet die eisers bewys (i) dat ‘n vervolging ingestel is; (ii) dat met die instelling van die vervolging inspekteur Dolozi onredelik en sonder redelike gronde dit gedoen het; (iii) dat met die instelling daarvan hy met ‘n gewraakte gesindheid opgetree het; en, (iv) dat die verrigtinge in die eiser se guns tot ‘n einde geloop het. Sien Ochse v King William’s Town Municipality 1990 (2) SA 855 (OK) op 857A-B. Uit wat ek alreeds hierbo gesê het is dit duidelik dat die eisers nie daarin geslaag het om die tweede of die derde of die vierde element wat as vereiste gestel is te bewys nie. Dit is ook nie deur mnr Mouton aan die hand gedoen dat die eisers op hierdie eis kan slaag indien hulle onsuksesvol is op die eis om skadevergoeding weens onregmatige arrestasie nie.

Dit bring my terug na die eerste eis. Hierdie is vir skadevergoeding voorspruitende uit onregmatige arrestasie en aanhouding. Vir redes reeds verstrek kan die eisers nie slaag op ‘n eis vir onregmatige arrestasie nie. Die verweerder het op ‘n oorwig van waarskynlikhede bewys dat inspekteur Dolozi regmatig opgetree het toe hy die eisers arresteer het op ‘n aanklag dat hulle hom verhinder het in die uitvoering van sy pligte. Ingevolge artikel 40(1)(j) van die Strafproseswet No. 51 van 1977 was inspekteur Dolozi by magte om die eisers sonder ‘n lasbrief op die aanklag te arresteer.

Tydens kruisverhoor van inspekteur Dolozi het mnr Mouton hom verwys na ‘n passassies in ‘n polisie Staande Order (G) 341 en sy kommentaar daaroor gevra. Hierdie Staande Order behandel arrestasie en die behandeling van ‘n gearresteerde persoon totdat die gearresteerde by die gemeenskapsdienssentrum aan die bevelvoerder oorhandig word. Mnr Mouton het nie verder in sy betoog daarmee gehandel nie en my nie ‘n afskrif daarvan gegee nie. Ek het egter een bekom. Paragraaf 1 daarvan handel met die sogenaamde “background”. Dit bepaal dat “arrest constitutes one of the most drastic infringements of the rights of an individual. The rules that have been laid down by the Constitution, 1996 (Act No. 108 of 1996), the Criminal Procedure Act, 1977 (Act No. 51 of 1977), other legislation and this Order, concerning the circumstances when a person may be arrested and how such person should be treated, must therefore be strictly adhered to.” Paragraaf 3 (1) wat ook aan inspekteur Dolozi voorgehou is lees soos volg: “There are various methods by which an accused’s attendance at trial may be secured. Although arrest is one of these methods, it constitutes one of the most drastic infringements of the rights of an individual and a member should therefore regard it as a last resort”. Paragraaf 3 (2) wat nie deur mnr Mouton

aan inspekteur Dolozi voorgehou is nie bepaal egter soos volg: “It is impossible to lay down hard and fast rules regarding the manner in which the attendance of an accsed at a trial should be secured. Each case must be dealt with according to its own merits. A member must always exercise his or her discretion in a proper manner when deciding whether a suspect must be arrested or rather be dealt with as provided for in subparagraph (3) below.” Dit is duidelik uit die polisie Staande Order dat alhoewel arrestasie beskou word as ‘n drastiese maatreël erkenning daaraan verleen word dat arres in sommige gevalle die gepaste wyse is om ‘n beskuldigde se teenwoordigheid by die hof te verseker. Mnr Mouton het sterk gesteun op die beslissing van Bertelsmann R in Louw and Another v Minister of Safety and Security 2006 (2) SASV 178 (T). Nadat Bertelsmann R aandag gegee het aan verskeie gerapporteerde en ongerapporteerde beslissings asook aan publikasies van regskenners het hy op bladsy 187d-e tot die volgende slotsom geraak:

“What these statements mean is that the police are obliged to consider, in each case when a charge has been laid for which a suspect might be arrested, whether there are no less invasive options to bring the suspect before the court than an immediate detention of the person concerned. If there is no reasonable apprehension that the suspect will abscond, or fail to appear in court if a warrant is first obtained for his/her arrest, or a notice or summons to appear in court is obtained, then it is constitutionally untenable to exercise the power to arrest.

Before an arrest can lawfully be exercised, the reasonable suspicion that a Schedule 1 crime has been committed must be considered by a reasonable investigating officer, and it must be considered whether the suspect will attend the court hearing if summonsed or warned. Only if there are reasonable grounds to suspect that the suspect will abscond if an application for a warrant is first made may the power contained in s 40 of Act 51 of 1977 be exercised.

I do not believe that this places an undue burden on the police. It requires no more than an honest exercise of their duties. If they bona fide fear that a suspect will evade justice, then an arrest is obviously the correct option. But, by the same token, this test makes an arrest ultra vires when exercised against a suspect under circumstances where the suspect is perfectly willing to come to court on warning, on notice or summons.”

Goldblatt R het in ‘n beslissing Charles v Minister of Safety and Security wat gerapporteer is in 2006 JOL 17224 (W) tot die gevolgtrekking geraak dat Bertelsmann R duidelik verkeerd was in sy uiteindelike gevolgtrekking. Dit is nie vir my nodig om vir doeleindes van die onderhawige saak te beslis of ek saamstem met Bertelsman R of met die gevolgtrekking waartoe Goldblatt R gekom het nie, dat Bertelsmann R verkeerd was nie. Die saak van Louw, waarmee Bertelsmann R gehandel het, kan duidelik onderskei word van die onderhawige geval. Die feite in Louw se saak dui daarop dat die polisie heeltemal onredelik opgetree het en dat die arrestasie van die eisers op ‘n aanklag van diefstal heeltemal verkeerd was. Verskillende partye het aanspraak gemaak op die besitsreg van die beweerde gesteelde artikels. Dit is ook verder duidelik uit die gedeelte van die uitspraak van Bertelsmann R, wat hierbo aangehaal is, dat hy sy stellings maak en sy gevolgtrekking bereik het waar ‘n arrestasie deur ‘n polisiebeampte uitgevoer word op sterkte van ‘n redelike suspisie dat ‘n misdryf gepleeg is. In die onderhawige geval het inspekteur Dolozi opgetree en ‘n arrestasie uitgevoer waar ‘n misdryf in sy teenwoordigheid gepleeg is en waar die handhawing van wet en orde sodanige optrede geverg het. Op bladsy 11 oor na 12 van die Charles saak het Goldblatt R die volgende gesê:

“In my view, the final sentence of the quotation from Schreiner AJ Tsose’s case (1951 (3) SA 10 AD op 17H) Bertelsmann J correctly sets out the existing law. The learned Judge of Appeal said:

“But there is no rule of law that requires the milder method of bringing a person into court to be used whenever it will be equally effective.”

The Legislature having granted a peace officer the right to make an arrest in the circumstances set out in section 40 has created a situation where due compliance with such section by a peace officer is lawful and affords such peace officer protection against an action for unlawful arrest. In my view, the court has no right to impose further conditions on such persons. To do so would open a Pandora ’s Box where the courts would be called upon in cases of this type to have to enquire into what is reasonable in a variety of circumstances and further where peace officers would be called upon to make value judgments every time they affect an arrest in terms of section 40. These judgments which they would have to make would later have to be considered and tested by judicial officers attempting to place themselves in the shoes of the arresting officer.

While section 40 exists in its present form it offers protection to those who legitimately rely upon it.”

Ek vereenselwig my, met respek met die standpunt van die geleerde Regter. In die omstandighede van die onderhawige geval was dit nodig vir inspekteur Dolozi om dadelik op te tree. Hier was ‘n duidelike geval van inmenging met die pligte van ‘n polisiebeampte terwyl daar ‘n samedromming van mense om die polisie was. Dit was nodig vir inspekteur Dolozi om hulp te ontbied. Handhawing van wet en orde moes geskied. Om in daardie omstandighede te verwag dat inspekteur Dolozi twee persone wat in sy teenwoordigheid hulle skuldig gemaak het aan misdrywe waarvoor gevangenisstraf opgelê kan word net daar te laat en hulle te dagvaar of te waarsku om in die hof te verskyn sou ‘n gekheid van die bepalings van artikel 40 van die Strafproseswet maak. Dit sal ook ondermyning van die polisie se gesag tot gevolg hê. In daardie omstandighede kon dit nie verwag word vir van inspekteur Dolozi om skielik terselfdertyd arresterende polisiebeampte, staatsaanklaer, verdedigings-prokureur en landdros te speel nie. Na my oordeel was inspekteur Dolozi geregtig om die eisers te arresteer.

Die enigste vraag wat nou nog oorbly is of die voortgesette aanhouding van die eisers tot met hulle verskyning in die hof onregmatig was. Mnr Mouton het aan die hand gedoen dat daar geen rede was vir die polisie om die eisers aan te hou nie. Hulle was, so was ook betoog, bekend in die gemeenskap en die eerste eiser het ‘n vaste werk gehad. Dit is aan die hand gedoen dat reeds op die Vrydagaand al hulle gewaarsku kon word om die hof by te woon. Dit is verder aan die hand gedoen dat die polisie reeds ingevolge die bepalings van artikel 59 van die Strafproseswet die eisers op borgtog kon vrylaat. Dit kon reeds op die Vrydagaand geskiet het. As verdere alternatief is aan die hand gedoen dat op die laaste die eisers die Saterdagoggend vrygelaat kon word, hetsy op waarskuwing of op borgtog, nadat die speurders die saak oorgeneem het.

Mnr Mouton

het sterk gesteun op die beslissing van Kroon R in die saak van Pieter Samuel Theo Slabbert v Minister of Safety and Security ‘n ongerapporteerde beslissing in die Oos-Kaapse Afdeling van die Hooggeregshof in saaknr. 1128/05. In die saak het Kroon R beslis dat ten spyte van die feit dat die eiser in die saak regmatiglik gearresteer was sy aanhouding daarna ongeregverdig was en op sterkte daarvan is skadevergoeding aan hom toegeken. Slabbert

se saak kan heeltemal onderskei word van die onderhawige. In Slabbert se saak is hy gearresteer op ‘n aanklag dat hy in ‘n openbare plek onder die invloed van drank was. Onmiddellik na sy arrestasie was vriende van die eiser op die toneel en het sy vrou ook aangedoen by die polisiestasie. Sy het versoek dat die eiser in haar sorg vrygelaat word. Die eiser was baie goed bekend aan die arresterende polisiebeampte. Die aanklag teen hom was van ‘n geringe aard. Dit was laat in die nag in ‘n eensame straat in Klipplaat, ‘n klein Oos-Kaapse dorpie toe die eiser Slabbert die geringe oortreding begaan het. In die onderhawige geval is dit die verweerder se saak dat die eisers hulle skuldig gemaak het aan ‘n ernstige oortreding waarvoor hulle gevangenisstraf opgelê kan word. Inspekteur Dolozi het ook nie een van die eisers geken nie. Daar is ook geen aanduiding dat enige van die eisers of enige persoon namens hulle enige aansoek om vrylating op waarskuwing of borgtog ingevolge artikel 59 van die strafproseswet gerig het nie. Mnr Steyn het erken dat die polisie wou poog om aan hom ‘n skriftlike uiteensetting van sy regte te gee. Hy het egter geweier om dit te ontvang. Dit blyk dus nie asof daar enigsins enige samewerking aan die kant van die eisers in die saak was nie. In ieder geval, die eisers is in hegtenis geneem ingevolge die bepalings van artikel 40 van

die Strafproseswet. Artikel 50 beskryf die prosedure wat gevolg moet word na inhegtenisneming. Onder andere word daar bepaal dat ‘n gearresteerde persoon aan wie nie borgtog ingevolge artikel 59 of 59A toegestaan word nie so gou moontlik voor ‘n hof gebring moet word, maar nie later as 48 uur na die inhegtenisneming nie, maar indien die tydperk van 48 uur buite gewone hofure, of op ‘n dag wat nie ‘n gewone hofdag is nie verstryk, moet ‘n beskuldigde voor die hof gebring word nie later nie as aan die einde van die eerste hofdag. Dit is in die onderhawige geval gedoen. Die polisie het ingevolge die bepalings van die Strafproseswet opgetree. Hierdie optrede was nie onregmatig nie. Die verdere aanhouding van die eisers was ook nie onregmatig nie. Die eisers kan ook nie op die eerste eis slaag nie.

Bygevolg word beide die eisers se eise afgewys met koste.

______

J

C H JANSEN

REGTER

VAN DIE HOOGGEREGSHOF

Source wording is retained. Consult the source document for its original formatting and pagination.

Authorities

Authorities used by the court

Cases, legislation, regulations, and constitutional provisions identified in the available record.

Ochse v King William’s Town Municipality 1990 (2) SA 855 (E)

Case cited

Louw and Another v Minister of Safety and Security 2006 (2) SA 178 (T)

Case cited

Charles v Minister of Safety and Security 2006 JOL 17224 (W)

Case cited

Criminal Procedure Act 51 of 1977

Legislation

Legislation referenced in the available case record.

South African Police Service Standing Order (G) 341

Legislation

Legislation referenced in the available case record.

Case-aware research

Ask AI about this case

The judgment and available research above are public. New questions open in a separate private conversation grounded in this case.

About this LexChat collection

This page organizes the available case record for research. Verify quotations, current status, and subsequent treatment against the source document. Corrections can be reported to hello@esheria.ai.

Legal information, not legal advice. Research summaries do not replace the judgment.